

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 July 2006
‘n Gebedswag, wat saam met die Dorpswag deur die nag vir die veiligheid en rustigheid van die hele gemeenskap in die dorp en omgewing sal intree, is besig om op dreef te kom.
“Daar het ‘n behoefte ontstaan om ‘n Gebedswag in die dorp op die been te bring, om saam met die Dorpswag ons dorp en omgewing te help veilig hou. Die gedagte is om die mense wat snags waghou en patrollie ry, aan die Here op te dra en terselfdertyd vir die veiligheid en rustigheid van die hele gemeenskap in die dorp en ook op die plase in die omgewing te bid,” sê Pieter Pretorius, koördineerder van dié gebedswag.
“As ons elkeen net vir 15 minute elke nag bid, het ons 40 mense nodig om van 20:00 saans tot 06:00 in die oggend te bid. Die ideaal sal wees om meer as een persoon op ‘n skof te hê,” sê Pieter.
Die idee van so ‘n Gebedswag vir die dorp het ontstaan toe Pieter te midde van al die woelinge en geweld in die gemeenskap, ‘n gebedsaak daarvan gemaak het.
“Lank het ek met hierdie saak geworstel en baie daaroor gebid. Telkemale het Bybelverse in my gedagtes na vore gekom wat beklemtoon: Ons is nie meer ‘n biddende gemeenskap nie. Dit is duidelik die wil van ons Hemelse Vader dat ons weer na Hom sal terugkeer en as gemeenskap ons voor Hom sal verootmoedig en Hom alleen sal aanbid. Dit is hieruit dat die gedagte om ‘n gebedswag op die been te bring, gebore is,” sê Pieter. Hy voeg by: “Omdat dit vir my ‘n heeltemal vreemde veld van doen is, het ek op die Internet gaan kyk wat ander onder sulke omstandighede doen. Daar is getuienis van plekke waar die Evangelie net nie wou posvat nie. Die betrokkenes het toe met ‘n gebedswag van vier ure elke aand begin. Die gebedswag het skielik begin groei. Die betrokke gemeente het ook begin groei. Dit het so goed gegaan dat hulle later ‘n 24-7-365 gebedswag op die been gehad het. Tans is daar vier gebedswagte wat elkeen 24 uur per dag, sewe dae per week, 365 dae per jaar aktief aan die gang is. Dieselfde getuienis kom van ander gemeentes, wat daarvan getuig dat die Gees van God ook in hul gemeentes aktief aan die werk is vandat hulle ‘n 24-7-365 gebedswag begin het.”
Pieter wys daarop dat die gemeente van Yanggi Cho in Korea – die gemeente wat die vinnigste ter wêreld groei – elke Vrydagaand deurnag bid. Alle mense bo die ouderdom van 60 jaar kan vanaf vieruur in die oggend verskoon word, maar die res bid deur totdat die son opkom.
Hy wys op die voorbeeld van Dawid in 2 Samuel 24, wat met die koop van Aurauna se dorsvloer daarop aangedring het om die volle prys te betaal, met die verduideliking: “Ek bring nie aan die Here my God offers wat my niks kos nie.”
“As ek dus ‘n oproep maak dat ons saans deur moet bid, is dit nie om iets te probeer bewys nie, maar dat ons ook ‘n kort tydjie (net 15 minute) van ons slaap sal opoffer vir ons Koning wat 24-7-365 oor ons lewens op wag is,” sê Pieter.
Daar kort nog heelwat gebedswagte, wat elkeen op hul eie in hul eie huise op bepaalde tye ‘n gebedskof kan hanteer.
‘n Gebedswag nuusbrief, wat onder meer nuttige teksverse bevat, wat tydens ‘n gebedswag gebruik kan word, word aan al die gebedswagters versprei.
Belangstellendes kan Pieter of Dee skakel by tel. (015) 516 2324 gedurende kantoorure, 516 2290 ná ure of 082 871 2537.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
