ADVERTISEMENT:

 

Een van die vele ongelukkige pasiënte by die Blouberg Dierekliniek wat opgeneem is met bosluiskoors. Lily is Woensdag afgeneem en het die hospitaal gedeel met 'n kat wat ook gediagnoseer is met bosluiskoors.

Erge toename in bosluiskoors weens warmer weer

 

News  Date: 30 September 2017

 

In die Bosveld is lentetyd ook bosluistyd.

Dit is wanneer daardie klein parasiet, wat agt pote het soos ‘n spinnekop, jou bloed kan uitsuig soos ‘n vampier en baie siek kan maak.

Dié klein, maar ook moontlik dodelike parasiet, is die laaste tyd heel aktief in Louis Trichardt met verskeie gevalle van bosluiskoors onder inwoners én troeteldiere.

Volgens dr. Anton Stroebel van die Prognos Mediese Sentrum in Louis Trichardt is bosluise beslis meer aktief in die warmer maande. Insgelyks is mense ook meer aktief en spandeer hulle meer tyd in die buitelug. Sodoende het bosluise ‘n beter kans om mense te byt.

Mark Archer was een van die ongelukkige inwoners wat deur ‘n bosluis gebyt is. Hy is verlede Woensdag positief gediagnoseer met bosluiskoors. “Ek het in my lewe nog nooit so ‘n erge hoofpyn gehad nie,” het Mark gesê. Hy sê hy was ook baie moeg en het die heeltyd geslaap. Volgens hom kan bosluiskoors se simptome maklik verwar word met dié van ‘n verkoue. Die simptome van bosluiskoors sluit in ‘n hoë koors, kouekoors, hoofpyn, moegheid, spier- en gewrigpyn. Aanvanklik is Mark simptomaties behandel, maar hy moes later antibiotika neem om die bosluiskoors die finale nekslag toe te dien.

Dit is egter veral troeteldiere in die dorp wat erg deurloop onder die bosluise. Volgens Dr. Barend Harris van die Blouberg Dierekliniek behandel hul feitlik elke dag vir die hele September sover een nuwe geval van borsluiskoors.

Plaaslike veearts dr. Nada de Villiers van Nada’s Ark het op haar beurt gesê dat inwoners hulle troeteldiere voorkomend teen bosluise kan beskerm deur hulle gereeld te bad en te dip. Dip werk egter net vir ‘n paar dae. Sy beveel eerder aan dat medikasie teen bosluise, in tabletvorm, gebruik word. Dit kan jou troeteldier vir tot drie maande lank beskerm. 

Die siekte word veroorsaak deur ‘n bakterium wat deur die hondehokbosluis (rhipicephalus sanguineus) oorgedra word as hy mense of diere byt.

Diere wat bosluiskoors opgedoen het, word bleek (duidelik te sien by die tandvleis), koorsig en wil nie eet nie. In ‘n gevorderde stadium word die huid geel van kleur, urine raak donker en die dier kan dan ook weens die siekte sterf. “Dit is eintlik moeilik om van die begin af bosluiskoors te diagnoseer, want meeste siektes maak honde en katte lusteloos. ‘n Eienaar wat egter elke dag betrokke is by hulle diere sal vinnig agterkom daar is fout en hulle troeteldier na ‘n veearts bring,” het Nada gesê.

Bosluise teer op die bloed van gewerwelde diere. Hulle byt vas aan die vel van ‘n mens of die huid van ‘n dier, waar hulle selfs dae lank van die gasheer se bloed kan drink. Buiten vir bosluiskoors, kan bosluise ook ander ernstige siektes soos tifus-, loopgraaf- en Rocky Mountain-koors oordra, asook vlektifus en Lyme-siekte.

‘n Bosluis se byt is gewoonlik nie seer nie. Jy sal moontlik eers agterkom jy is gebyt as jy die bosluis op jou vel sien. Simptome verskyn sowat sewe na 10 dae ná die byt. ‘n Besmette bytplek is nektroties, wat beteken die rofie vertoon swart, met infeksie onder die swart deel.

Wat mense betref is die beste manier om bosluisvry te bly maar om ná elke piekniek, jagtog of fietsrit in die veld seker te maak daar is geen bosluise op jou nie. Dit is veral raadsaam om binne die eerste twee ure ná jou velduitstappie ‘n deeglike bad of stort te neem.  

As die bosluis dan nog steeds nie verdrink het nie, moet dit nie net sommer met jou vingers probeer aftrek nie. Die gevaar bestaan dat ‘n deel van sy kop (wat die siekte kan oordra) in die bytplek kan agterbly. Smeer eerder ‘n olierige middel soos petroleumjellie op en om die area van die bytplek, sodat die bosluis sy byt verslap. So kan jy die hele bosluis maklik verwyder. Bytplekke moet ook altyd goed ontsmet word en, indien daar tekens van koors of infeksie is, moet ‘n dokter geraadpleeg word. ‘n Uitslag kom dikwels voor rondom die bytplek en kan geleidelik uitbrei tot ‘n ring rondom die bytplek voordat die uitslag na ander dele van die liggaam versprei.

Die diagnose word meesal op grond van die simptome gemaak en bloedtoetse is dikwels onnodig. Die pasiënt se positiewe reaksie op die medikasie is ook ‘n aanduiding dat die regte diagnose gemaak is. Onbehandelde bosluiskoors, daarenteen, kan dodelik wees. Ander ernstige siektes wat met dieselfde simptome begin en waarna opgelet moet word, is malaria en meningitis.

Indien daar vermoed word dat ‘n familielid bosluiskoors opgedoen het, moet hulle dadelik na hul naaste kliniek of privaat geneesheer geneem word. Bosluiskoors kan suksesvol met die regte medikasie onder beheer gebring word, veral as dit vroeg genoeg gediagnoseer kan word.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines