ADVERTISEMENT:

 

Dissipline by skole bly populêre maar moeilike onderwerp

 

News  Date: 01 October 2017

 

Dissipline by skole, oftewel die gebrek daaraan, is ‘n kwessie wat telkens op die voorgrond gedruk word.

Daar gaan bykans nie ‘n week verby waar iemand ‘n insident op sosiale media deel waar kinders mekaar aanrand of onderwysers hulle aan wangedrag skuldig maak nie.

“Dissipline in skole bly 'n populêre besprekingspunt. ‘n Skool bestaan uit mense: leerlinge, onderwysers en ouers. Al hierdie partye is individue, met 'n eie waardestelsel en karakter. Dit is waarom daar nêrens 'n ideale skool is nie. Geen skool kan daarop aanspraak maak dat daar geen insidente plaasvind nie, en hieronder tel Laerskool Louis Trichardt ook,” het mnr. Louis Linde, skoolhoof van Laerskool Louis Trichardt gesê.

Linde het gesê dat alhoewel hulle hul daarop roem dat hulle 'n waardegedrewe skool is, en dat elke leerling en onderwyser mekaar moet respekteer, kom insidente voor. “Maar dan is die belangrikste - hoe word opgetree?” het Linde gesê.

Volgens Linde word Laerskool Louis Trichardt se gedragskode vir beide leerlinge en personeel gereeld hersien. Volgens hierdie gedragskode is daar dan dissiplinêre stappe wat geneem word. “Ek stel dit weereens dat ek ‘n ‘oopdeurbeleid’ volg. ‘n Insident moet dadelik gerapporteer word, sodat ons kan optree. Dan word die insident dieselfde dag met die ouer(s) gekommunikeer, sodat die ouer(s) daarvan weet, voordat hulle kind nog by die huis kom,” het Linde gesê.

Ongelukkig gebeur dit nie altyd dat ‘n kind nie ‘n insident rapporteer nie. “As die leerlinge die saak nie onmiddellik of dan later rapporteer nie, kan die skool ongelukkig niks aan die insident doen nie,” het Linde gesê.

Die handhawing van dissipline in 'n skool is baie moeilik - iets wat elkeen behoort te begryp. “Die toepassing daarvan verskil drasties van die verlede. Samewerking tussen die ouer en die skool is baie belangrik. Ek wil dus weer 'n beroep doen dat sake onder ons aandag gebring moet word,” het Linde gesê. In dieselfde asem het hy ouers en inwoners versoek om nie hul ore uit te leen vir skinderpraatjies nie. “Wanneer u kind sê dat maatjie se maatjie het dit en dat gedoen, maak maar eers deeglik seker van die feite!” het Linde gesê.

Volgens Linde moet elke skool het 'n gedragskode hê wat opgestel moet word volgens die Suid-Afrikaanse Grondwet. “Almal moet binne die reëls van die gedragskode optree,” het Linde gesê.

Hy het kortliks weer verduidelik watter stappe gevolg word wanneer ‘n insident plaasvind. Eerstens moet die saak aangemeld word, waarna ‘n skriftelike verslag opgestel word. Onderhoude word met die betrokke partye gevoer en verklarings word dan geneem. Hierna word die gevolge aan die betrokke partye verduidelik, waarna die kinders se ouers gekontak word. Indien nodig, kan daar ook (strafregtelike) sake geopen word.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines