

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 July 2006
Op die eerste skooldag van die nuwe skoolkwartaal het ‘n groep kinders niks of weinig van die skoolbanke gesien nie en baie van die binnekant van die hospitaal.
Die bussie waarin twaalf kinders vanaf Buysdorp gery het, het op pad na die skool gerol. Een leerder van Hoërskool Louis Trichardt, Morgan Kaba, is in die hospitaal opgeneem om later na Polokwane oorgeplaas te word.
“Sy linkerarm by die elmboog het ‘n gat in,” het sy ontstelde moeder, mev. Susanna Kaba, gesê. Die ongeluk het Maandag, 17 Julie, plaasgevind, die dag voor Morgan se agtiende verjaarsdag. Morgan het langs die bestuurder gesit.
Die ander 11 het skok en ligter beserings opgedoen. Nege van die groep is leerders van die hoërskool en drie is van Laerskool Louis Trichardt, met die kleinste enetjie in Graad 0.
Die ongeluk het naby die Rissik/Cronjéstraat-kruising plaasgevind op die pad vanaf Vivo. Die bestuurder van die bussie het klaarblyklik te vinnig gery en beheer verloor oor die voertuig om ‘n draai. Dit het van die pad gegaan en op los gruis gegly. Met die terugswaaislag het die bussie eers in die rondte getol en toe omgeslaan. Daar was gelukkig geen aankomende verkeer nie.
“Ek het net gesien hoe gebeur alles, maar ek weet nie hoe ek uit die bussie gekom het nie,” het Christopher Simons (15) by die hospitaal gesê. Hy het sy linkerarm beseer.
Klein Luanzo Engelbrecht (9) het gelê en slaap en van niks geweet nie.
“Ek het op die gras wakker geword,” sê Luanzo met sy nekstut aan. Nog twee wat nekstutte gekry het, is Jeanine Vilander (15) en Rodine Engelbrecht (15). Jeanine sê dat sy liewers in die skool sou wou gewees het.
Die hoof van Hoërskool Louis Trichardt, mnr. Henri Denner, het die kinders in die hospitaal besoek. Mnr. Denner het vir Morgan, wat die ernstigste beseer is en dalk nie sy hande nou in die komende Graad 12-eksamen na behore sal kan gebruik nie, die versekering gegee dat die skool hom sal ondersteun.
Dit was ‘n troos vir sy familie, wat almal in ‘n Venture na die hospitaal gekom het om Morgan te ondersteun. By die hospitaal is die familie egter verder ontstel deur die kortaf behandeling van die dokter met hulle versoek om nie die kind na Tshilidzini hospitaal oor te plaas nie. Dit is later uitgesorteer met behulp van die veiligheidsoffisier, mnr. Mahlaule, wat deur die hospitaal aangewys is om die media te vergesel.
Maar steeds was dit nie die einde van die drama nie …
Onderweg na die hospitaal het daar egter nog ‘n ongeluk gebeur. ‘n Noodreddingsvoertuig het agter in die Venture vasgery op die hoek van Munnik- en Rissikstraat. Dit het groot hartseer vir die eienaar van die Venture, mnr. Tony Buys veroorsaak, wat ook die eienaar van die bussie was. Die bussie is slegs ‘n paar dae tevore aangekoop om te help om die kinders skool toe te bring. Die Venture is sleg gestamp en die bussie is na die skrootwerf geneem. Almal is egter dankbaar dat die kinders almal lewe.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
