

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 July 2006
Sou die skrif hierdie keer regtig aan die muur wees vir die pragtige ongerepte Groengordel-area van Makhado (Louis Trichardt)?
Dr. Murray Hofmeyr, wat in Rivierstraat naby die Groengordel woon, voel dat ‘n sekere voorwaarde gekoppel aan die verkoop van die Groengordel, wat ook die boompark insluit, ‘n flikker van hoop bring. As beswaarmaker het hy ‘n brief van die Raad met die betrokke raadsbesluite ontvang.
Die moontlikheid dat die insluiting van ‘n botaniese tuin in die ontwikkelingsarea ondersoek moet word, is een van die spesifieke voorwaardes aan die Wadanga-i-tole Entertainment Park, die kliënt wat die grond by die Makhado Munisipaliteit vir R15 300 000 aankoop. Hierdie voorwaarde is ingesluit by die resolusies van die Raad se Uitvoerende Komitee wat op 15 Junie geneem is.
Dr. Hofmeyr het hierdie saak geopper by die vergadering wat die nasionale biodiversiteit instituut (SANBI) vroeg in Julie met plaaslike wetenskaplikes gehad het. By die vergadering het dit aan die lig gekom dat ‘n nasionale botaniese tuin vir Limpopo beplan word, maar dat die plek waar dit aangelê sal word, nog deur SANBI ondersoek word. Daar is genoem dat enige botaniese tuin, nie net ‘n nasionale een nie, ‘n groot aanwins vir ‘n streek is.
Nog voorwaardes wat hoop bied vir die dorp se vele ondersteuners van omgewingsbewaring, is die omgewingsimpakstudie wat deur ‘n onafhanklike konsultant gedoen moet word en die omgewingsbestuursplan wat gedurende en na die konstruksie tydperk voorgelê moet word. Die omgewingsimpakstudie en omgewingsbestuursplan ten opsigte van hierdie ontwikkeling is twee sake wat pertinent genoem word in ‘n brief van parlementslid mnr. Willie Spies aan die Minister van Omgewingsake en Toerisme, mnr. Marthinus van Schalkwyk.
Die Groengordel langs die N1 snelweg deur Louis Trichardt word in hierdie brief, gedateer 27 Junie, beskryf as ‘n nasionale bate en toeriste-aantreklikheid.
“Heelwat unieke plantspesies kom daar voor, asook Baster Maroela, rooi duiker, ‘bandit mongoose’, bosbok, kolhaas, verskeie skaars voëlspesies en meer as 300 inheemse boomspesies,” lui die brief. Melding word gemaak van die toestemming wat deur die Raad gegee is aan die betrokke maatskappy om die Groengordel-grond, wat deel van die sensitiewe ekologiese sisteem uitmaak, te ontwikkel.
Daar word vir die minister aan die hand gedoen dat die “saak op die hoogste moontlike vlak gemonitor word”. Die betrokke area beslaan ‘n oppervlakte van 53.5 hektaar.
Nog ‘n voorwaarde vir die ontwikkeling, soos aangedui in die Raadsbesluit, is dat die gemeenskaplike oop gedeeltes wat die Raad se eiendom bly, deur die ontwikkelaar ontwikkel word volgens ‘n aparte ooreenkoms wat met die Raad gesluit moet word. Dit moet water aantreklikhede of soortgelyke park aantreklikhede insluit en behoorlik onderhou te word deur die ontwikkelaar as ‘n bate vir die gemeenskap.
Nog ‘n voorwaarde is dat die ontwikkeling nie ‘n vulstasie mag insluit nie. ‘n Vorige Raadsbesluit (paragraaf 2 van Resolusie B.166.25.11. 04) is ook teruggetrek in soverre as wat dit betrekking het op die beperking op residensiële grond in daardie ontwikkeling. Volgens die nuwe besluit word ‘n maksimum van 146 residensiële eenhede nou toegelaat.
Beplande ontwikkeling van ‘n woongebied in die gedeelte van die Groengordel is by ‘n vorige geleentheid, in 1998, laat vaar weens heftige openbare besware.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
