

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 July 2006
‘n Tragiese fratsongeluk het die lewe geëis van ‘n 15-jarige seun wat deur ‘n meganiese hyskraan vasgeklem is, terwyl hy behulpsaam was met die oprigting van spreiligte by sy skool se sportvelde.
Jantjie Nel was ‘n Graad 9-leerling by die CVO Skool Zoutpansberg. Die ongeluk het Vrydagmiddag (21ste) net na skool plaasgevind. Jantjie is op die toneel oorlede.
Jantjie was die seun van Izak en Ann-Marie Nel, bekende inwoners van Levubu. Mnr. Nel het ‘n konstruksie-onderneming en Jantjie het van jongs af met die masjinerie gewerk.
“Hy het gelewe vir die masjiene en kon nie wag om saam met sy pa in die onderneming te werk nie,” het sy ouer suster, mev.Cornette Koekemoer, Dinsdag gesê.
Jantjie was baie bemind by die leerlinge en personeel van die skool. Die leerlinge was Maandag ontroosbaar oor die verlies van hul geliefde maat.
“Hy het nie eers rugby gespeel nie, maar hy het aangebied om te help met die spreiligte. Hy het altyd in almal se harte ingekruip. Jantjie was ‘n laatlam en alles vir ons ouers,” het Cornette gesê.
Die begrafnis vind plaas op Donderdag, 27 Julie, om 12:00 vanuit die NG Kerk Levubu. Jantjie Nel laat sy vader, moeder en twee susters, Cornette en Carin agter. Huldeblyke is deur die gebroke familie aan wyle Jantjie opgedra.
“Boeta, jy was ons sonstraal – ons vreugde – ons lewe. Dankie vir jou liefde, jou ondeundheid, jou skaterlag, jou oorgretigheid om te help. Jy het ons besig gehou, maar ‘n groter geskenk in ons lewe kon ons nie van die Hemelse Vader ontvang het nie. Jou plek kan nooit weer gevul word nie. Rus sag in Jesus se hande. Pappa en Mamma.”
Sussie Carin sê, “Die dag toe mamma en pappa jou huis toe gebring het, was die beste dag in my lewe. Jy was ons sonstraaltjie. Dankie vir al jou liefde en dat jy ons lewens vol gemaak het. Jy sal altyd in ons harte bly. Ons sal jou lag, jou liefde en jou streke nooit vergeet nie. Jy het ons besig gehou, jonk gehou en vol lewe gehou. Ons huis is leeg sonder jou.”
Cornette, AJ, Marizel en Duncan sê, “Ons harte is stukkend oor jou … Boeta, ons gaan jou so ongelooflik mis. Jy het ‘n manier gehad om harte te steel met jou mooi persoonlikheid en daardie simpel laggie van jou. Ons troos ons daaraan dat Jesus jou kom haal het, terwyl jy besig was met dit wat jou die gelukkigste gemaak het. Boeta, moet nooit ophou lag nie.”
“God het sy mooiste blom kom pluk. Jou gelag sal altyd in ons geheue weergalm. Jantjie, dankie vir al die mooi herinnerings. Jou plekkie sal altyd leeg wees. Ons sal jou mis,” kom die boodskap van ouma Maryna en gesin en Krokkie en gesin.
“Jantjie, aan jou ouma Pikkie het jy net vreugde en liefde betoon. Baie dankie daarvoor. Ek gaan jou baie mis. Rus sag, my dierbare kleinseun. Jy het ons lewe opgehelder en die moeite werd gemaak,” sê ouma Pikkie.
Elisa, William, Andrew, John en die ander plaaswerkers sê “Jantjie, ons is jammer dat jy ons so skielik gelos het. Ons lief jou baie en sal jou nie vergeet nie. Die Here het gemaak soos Hy wil en Hy maak nie verkeerd nie ...”
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
