

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 October 2017
Die kanse is goed dat daar ‘n voorbeeld gemaak sal word van twee jong mans van Louis Trichardt wat glo op heterdaad betrap is toe hulle ‘n munisipale waterpomp probeer steel het.
Baie oë sal op die Louis Trichardt Streekshof wees, wat die twee beskuldigdes gaan aankla in terme van die nuwe Wysigingswet op Kriminele Aangeleenthede (Wet 18 van 2015). Hierdie wet is verlede jaar in gebruik geneem met die spesifieke doel om die toenemende vandalisme en diefstal van noodsaaklike infrastruktuur, soos munisipale waterpompe, aan te spreek. Die wet spreek ook die skade aan wat besighede en boere lei as gevolg van koperdiefstal.
Petrus Richard Duvenhage (24) en Andries Sandry Hibbert (26) sal teregstaan op ‘n klag van die sameswering om ‘n ander persoon te help om noodsaaklike infrastruktuur te beskadig of te vernietig. Die twee het op Maandag, 2 Oktober, in die Louis Trichardt Streekshof verskyn.
Duvenhage en Hibbert word daarvan beskuldig dat hulle op 5 Desember 2016 ingebreek het by die munisipale pomphuis in Kortstraat. Die Makhado Polisie het glo ondersoek gaan instel toe hulle ‘n geparkeerde motor naby die pomphuis opgemerk het. Binne-in het hulle toe klaarblyklik vir Duvenhage en Hibbert gekry, besig om elektriese kabels af te sny, vermoedelik sodat hulle die drukpomp kon uithaal.
Die twee mans is aanvanklik aangekla van inbraak en die besit van gesteelde goedere. Daar is egter besluit om hulle aan te kla ingevolge die gewysigde wet, nie net omdat die skade wat hulle sou aanrig derduisende rande sou beloop nie, maar ook omdat die voorsiening van water ‘n noodsaaklike diens is en hulle beweerde optrede veroorsaak het dat inwoners se watertoevoer onderbreek was.
As Duvenhage en Hibbert skuldig bevind word, kan hulle tot ‘n maksimum van 30 jaar gevangenisstraf of ‘n boete van tot R100 miljoen opgelê word as straf. Hulle kan ook onbevoeg verklaar word om ‘n vuurwapen te besit.
Die twee se saak, sover die koerant kon vasstel, is slegs die tweede keer wat iemand in terme van die nuwe wetgewing aangekla en vervolg word. Dit beteken daar is nog nie regtig vorige sake waarna ‘n hof kan terugverwys om te sien wat ‘n gepaste straf is nie.
Aan die begin van Oktober is die 31-jarige Thabo Rolvey Mohale in die Morebeng (Soekmekaar) Landdroshof skuldig bevind in terme van die nuwe wet en drie jaar direkte gevangenisstraf opgelê. Hy is aangekla nadat hy in Oktober 2016 gevang is op ‘n plaas van ZZ2 terwyl hy besig was om ‘n Eskom-transformator te beskadig.
Mohale het skuldig gepleit. In sy geval was die ZZ2 plaas en omliggende area vir dae sonder elektrisiteit, wat die hof as strafverswarende omstandighede aanvaar het.
In Duvenhage en Hibbert se geval sal hulle volgende jaar teregstaan. Hulle saak is uitgestel tot 19 en 20 Maart 2018, waarna hulle verhoor ná verwagting sal begin.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
