ADVERTISEMENT:

 

Rowers buit duisende tydens gewaagde rooftog

 

News  Date: 28 July 2006

 

‘n Groep van ses gewapende mans het Maandagoggend met sowat R230 000 in kontant op die vlug geslaan na ‘n gewaagde rooftog by P&L Hardeware in Makhado (Louis Trichardt).

Die ses verdagtes het twee plaaslike sekuriteitsbeamptes oorrompel wat besig was om geld op te laai by die besigheid. Buiten vir die geld is een van die sekuriteitsbeamptes se vuurwapen ook in die roof gesteel. Geen skote is afgevuur nie en niemand is in die roof beseer nie. Die rowers het teen hoë spoed op die vlug geslaan in ‘n voertuig met ‘n Botswana registrasienommer.

Volgens ‘n ooggetuie het hy gesien hoe die voertuig onder meer in Rissikstraat in die rigting van Vivo wegjaag en amper ‘n ongeluk veroorsaak het. Die polisie was haastig op die rowers se spoor. Lede van die Soutpansberg Dorpswag het ook handjie bygesit om te help om die verdagtes op te spoor, maar dit was die polisie wat kort na die voorval die voertuig wat in die roof gebruik is verlate langs ‘n grondpad na Tshikota vanuit Pretoriusstraat gevind het. Daar was geen teken van die verdagtes of die geld nie en teen druktyd was dit nie seker of enige arrestasies al uitgevoer is nie. Daar is later vasgestel dat die voertuig op 23 Julie in die Silverton area gesteel is. Die polisie het lede van die publiek versoek om na vore te kom met inligting wat kan help om die rowers vas te trek.

Maandag se roof kom te midde van ‘n effense oplewing in misdadige optrede die afgelope paar dae. Verlede Donderdag (20ste) is die lyk van ‘n 34-jarige swart vrou gevind in die bosse oorkant die Pretorius/Cellierstraat-kruising. Sy is half naak gevind en die vermoede bestaan dat sy eers verkrag is voordat sy vermoor is.

Die toename in misdadige optrede is ook duidelik vir lede van die Soutpansberg Dorpswag wat nog aktief inskakel by die misdaadvoorkingsaksie.

“Ek dink as die somer kom gaan ons lekker bontstaan,” het een lid opgemerk wat meen die koue wintermaande het gehelp om die misdaadvlaag in die dorp bietjie “af te koel”.

Dat warmer nagtemperatuur dalk ‘n rol kan speel by die voorkoms van misdaad blyk wel ‘n moontlikheid te wees. Dinsdagaand het lede van die buurtwag dalk ‘n voorsmakie beleef van dit wat vir hulle wag. Gedurende die aand het voornemde misdadigers by drie persone se wonings gepla in ondermeer Krogh-, Anderson en Celliersstraat.

“Dit is nie nou die tyd om slap te lê nie,” is die boodskap van die dorpswag. Daar is ook opnuut ‘n beroep gedoen op ou en voornemende lede om aktief in te skakel by die aksie. Veral in Sektor 2 word daar ‘n tekort aan mannekrag ondervind vir die ry van patrollies, veral op Dinsdagaande. Persone wat graag wil help om die dorp ‘n veiliger woongebied te maak, is welkom om die voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag, ds. Phillip Venter, te skakel by tel. 083 444 7672.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines