

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 July 2006
Drie inwoners van Indermark naby Vivo, Rueben Charane (44), Manthatha Malika (22) en Ananias Mashabathakga (26), is al drie Vrydag, 21 Julie, skuldig bevind in die Soutpansberg Landdroshof op verskeie klagtes van diefstal.
Mashabathakga is skuldig bevind op ‘n klag van diefstal, waar hy op 25 September 2005 vuurmaakhout op die plaas Ameland gesteel het. Hy is ook saam met Charane aangekla en skuldig bevind aan die onwettige jag van ‘n erdvark op die plaas Vleiland op 30 Augustus 2005. Mashabathakga is ook skuldig bevind op ‘n klag van die onwettige jag van twee vlakvarke op 15 Februarie vanjaar. Al drie aangeklaagdes is op die laaste klag van die onwettige besit van ‘n wildehaas skuldig bevind.
Vir die klag van vuurmaakhoutdiefstal is Mashabathakga beboet met R2 000 of vier maande tronkstraf. Vir die onwettige jag op die erdvark is hy en Charane elkeen ‘n vonnis van ses maande direkte gevangenisstraf opgelê. Vir die onwettige jag van die twee vlakvarke het Mashabathakga nog ses maande direkte gevangenisstraf gekry. Al drie beskuldigdes is gevonnis tot ‘n boete van R2 000 of vier maande gevangenisstraf vir die besit van die onwettig-gejagde haas.
Daar is verder uit boere se getuienis gehoor dat die gevalle van onwettige jag baie minder was nadat die drie op 3 Maart gearresteer is. Die staat het beslag gelê op ‘n Nissan bakkie wat aan Mashabathakga behoort het, aangesien die bakkie in ‘n hele reeks onwettige jagtogte gebruik is.

ADVERTISEMENT:
