ADVERTISEMENT:

 

Bergcare moet sorg vir al hoe meer behoeftiges

 

News  Date: 27 October 2017

 

Bergcare, die organisasie wat instaan vir die versorging van behoeftiges in die gemeenskap, verskaf onder meer twee keer per maand kospakkies aan 157 persone. Dit is benewens al die ander hulpprojekte waar Bergcare betrokke is.

Tydens Maandag, 16 Oktober, se kwartaallikse vergadering van Bergcare is terugvoering verskaf oor die verskillende projekte waarby die organisasie betrokke is. Bergcare dien as ‘n sambreelligaam vir die kerke en diensorganisasies in die streek.

Die grootste uitgawe vir Bergcare is die kospakkies wat elke tweede week uitgedeel word. Die vrywilligers pak tans 85 bokse vol met ‘n verskeidenheid voedselsoorte soos brood, eiers en graanvoedsel. Die grootste hoeveelheid van die kospakkies gaan aan bejaarde inwoners. Volgens die nuutste beskikbare syfers is daar 83 bejaardes, 35 volwassenes en 39 kinders wat hulp ontvang.

In al die gevalle waar hulp verskaf word, is ‘n maatskaplike werker betrokke om die nood te help identifiseer en bystand te verleen. Die ideaal is om persone wat hulp nodig het te help om weer selfversorgend te wees.

Een van die grootste projekte waarby Bergcare betrokke is, is die Tshitandani kinderhuis. Tans word 21 seuns daar geakkommodeer. Die kinders, sommige van hulle afkomstig van lande soos Zambië en Malawi, word gehelp met skoolopvoeding en versorging. Die seuns word selfs geleer om kos te kook, met vrywilligers wat help met lesse.

Die Tshitandani kinderhuisprojek word goed ondersteun deur die Departement van Sosiale Ontwikkeling en befondsing is ook van die Nasionale Loteryraad verkry om die onkostes te help dek.

Nog ‘n projek van Bergcare wat ‘n redelike mate van sukses behaal, is die liefdadigheidswinkeltjie. By dié winkeltjie word alles van tweedehandse klere tot ou meubels verkoop. Die winkeltjie het sy ontstaan te danke aan ‘n behoefte aan klere vir families en individue wat by Bergcare om hulp aanklop. Verskeie persone en instansies maak skenkings en dié klere word dan beskikbaar gemaak aan behoeftige inwoners. Die ekstra voorraad word egter in die winkel uitgestal en verskaf ‘n goedkoop opsie vir diegene wat klere of ander goedere wil aankoop.

Vroeër vanjaar het Bergcare ook die “Huis van Genade” opgeknap en beskikbaar gemaak aan behoeftige families. Die huis word gebruik as noodbehuising vir verdienstelike gevalle. Die opknappingswerk is met behulp van skenkings vanuit die gemeenskap gedoen.

Volgens Andries Smal, bestuurder van Bergcare, is hulle baie afhanklik van finansiële steun uit die gemeenskap. Elkeen van die kospakkies kos tussen R450 en R500. Die skenkings van klere en huishoudelike items aan die winkeltjie help baie, maar die organisasie benodig nog baie steun, veral van die gemeentes. Bergcare is ‘n interkerklike organisasie en, alhoewel die kantore gesetel is by NG Kerk Moedergemeente, is dit nie spesifiek verbind tot een kerkverband nie. Die vrywilligers wat help om die kos te verpak en af te laai, is vanuit verskillende gemeentes.

Een van die projekte waarna Bergcare tans kyk om te implementeer, is om borge te vind vir onder andere die kospakkies. Besighede of individue wat wil help, kan Andries skakel by (082) 899 9543 of die kantoor by 015 516 3902. Hy het ook ‘n beroep gedoen op meer gemeentes om betrokke te raak by Bergcare se aktiwiteite.

 

Written by

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines