ADVERTISEMENT:

 

Pure geluk … Ma Chané Oosthuizen het rede om breed te glimlag, want haar eenjarige babaseuntjie Luan is weer by die huis. Sowat twee weke gelede was daar in ‘n stadium gevrees dat Luan sou sterf vanweë ‘n ernstige longinfeksie.

Blydskap want klein Luan is weer tuis

 

News  Date: 28 October 2017

 

Ma Chané Oosthuizen het Dinsdag behoorlik haar hande vol gehad met ‘n baie woelige klein Luan wat weer by die huis is.

Die eenjarige Luan se verhaal het die afgelope paar weke die harte van inwoners aangegryp. Hy het by die dood omgedraai, nadat hy siek geword het en vir bykans twee weke in die intensiewe sorgeenheid van die MediKliniek in Tzaneen moes deurbring vanweë ‘n ernstige longinfeksie. Hy is verlede Donderdag oorgeplaas na ‘n gewone saal en Saterdag het sy ouers die blye nuus ontvang dat hulle hul kind kan kom haal.

Die Zoutpansberger het Dinsdagmiddag bietjie vir hom en ma Chané gaan kuier. Al wat Luan wou doen, was om op die swaaie te speel en Chané moes behoorlik bontstaan. Hoe dan anders, as mens so lank in die hospitaal was en niks kon doen nie!

Maar sy woeligheid pla glad nie. Ma Chané en pa Robert Steyn is net bly hul seuntjie is hulle gespaar en is weer tuis. “As dit nie was vir al die mense wat ons gehelp het nie, die ondersteuning van ons ouers, en al die mense van Louis Trichardt nie, sou Luan dalk nie hier gewees het nie,” het ‘n emosionele Chané gesê.

Chané het gesê daar was ‘n stadium wat hulle nie gedink het hulle babaseun gaan dit maak nie. “Die Saterdag [14 Oktober] toe sy hartklop 172 was, het ons die ergste gevrees. In ‘n stadium het dit gelyk of Luan net nie meer wou aangaan nie,” het Chané gesê.

Maar klein Luan het aanhou veg en deurgedruk. “Die Sondag was sy hartklop weer normaal, alhoewel sy koors nog steeds nie gebreek was nie,” het Chané gesê. Sy het weereens almal bedank wat so aanhoudend vir klein Luan gebid het. “Dit was maar ‘n emosionele wipplankryery,” het Chané gesê.

Chané en Robert het feitlik dag en nag by hul seun in die hospitaa gebly. “Dit was maar moeilik. Hulle wou ons nie regtig in die intensiewe sorgeenheid toelaat nie, want as hy ons stemme gehoor het, het hy woelig geraak en probeer veg teen die masjiene,” het Chané gesê. Tog, het Chané gesê, het hulle elke kosbare minuut wat hulle by hom kon spandeer aangegryp om met hom te gesels.

Wat die pad vorentoe betref, het Chané gesê dat Luan nog nie terug is by die skool totdat hy volkome herstel het nie. “Hulle het vir ons gesê dat as hy nou verkoue kry, dit baie erg sal wees,” het Chané gesê.

In die algemeen is die dokters egter baie tevrede met Luan se vordering. “Die keelspesialis het wel Vrydag vir ons gesê ons moet oor twee weke terugkom, sodat daar gekyk kan word na sy mangels. Hulle dink sy mangels is vergroot en dit veroorsaak dat hy moeilik asemhaal. Sy mangels sal uitgehaal moet word,” het Chané gesê. Die dokters wil egter hê Luan moet eers volkome herstel.

Te midde van die blydskap dat hul seun se lewe gespaar is en dat hy weer tuis is, is daar nog die kwessie van al die mediese rekeninge wat soos ‘n swaard oor die jong ouers se koppe hang. Hulle het geen mediese fonds nie. Aanvanklik het hulle Luan in ‘n staatshospitaal laat probeer opneem, maar daar was nêrens plek vir hom gewees nie. Weens die vrees dat Luan sou sterf indien hy nie onmiddellik spesialisbehandeling kry nie, is daar gereël dat hy in die MediKliniek in Tzaneen opgeneem word.  

“Toe ons Saterdag Luan se medisyne gaan haal het, het hulle [die hospitaal] vir ons ‘n papiertjie gegee. Daarop het ek gesien ons is nog so R32 000 uitstaande. Hulle het egter vir ons gesê dat as alles nou uitgesorteer is, sal hulle vir ons ‘n finale bedrag stuur. Ons het egter uitgewerk dat daar omtrent nog so R60 000 uitstaande  is,” het Chané gesê. Sy het weereens genoem dat sy en Robert baie, baie dankbaar is vir almal wat bydraes gelewer het, soos Tafelronde Zoutpansberg 66 wat R30 000 geskenk het, asook huisvriende Hennie en Lizelle Knoesen wat leiding geneem het met die hanteer van die finansies. Dit het egter die familie sowat R15 000 per dag gekos terwyl Luan in die intensiewesorgeenheid gelê het. Danksy skenkings kon die grootste deel van die rekening reeds betaal word.

Inwoners wat graag die jong ouers kan bystaan met die betaal van hul hospitaalrekening, is welkom om met Rudi Meissenheimer van die plaaslike Tafelronde te skakel by tel. 082 776 8377.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines