ADVERTISEMENT:

 

Inwoners gewaarsku teen beleggingskema

 

News  Date: 29 October 2017

 

Die Finansiële Dienste Raad (FDR) het beleggers gewaarsku om versigtig te wees wanneer hulle besluit om geld te belê by Choice Lifestyle, ‘n afdeling van Agapé Free Enterprises (Pty) Ltd.

Die FDR het in ‘n onlangse verklaring gesê dat Choice Lifestyle sake doen as a finansiële diensteverskaffer deurdat hulle beleggingsgeleenthede aan kliënte bied. Hulle het egter gewaarsku dat Choice Lifestyle nie ingevolge die FAIS wet (Financial Advisory and Intermediary Service Act) gemagtig is om hierdie dienste te lewer nie.

Moneyweb het die afgelope paar weke verskeie berigte gepubliseer waarin hulle talle vrae vra oor Choice Lifestyle se “oorbruggingskapitaal” skema. Volgens Moneyweb onderneem Choice Lifestyle om “borg” te staan vir kliënte wat dringend geld nodig het. Hulle hef dan 30% rente per maand vir die terugbetaling van hierdie “lenings”. Volgens Choice Lifestyle betaal hulle uit hierdie 30% per maand ‘n maandelikse opbrengs van 15% per maand terug aan beleggers wat by hulle belê. Die vraag wat Moneyweb onder meer gevra het, is hoe so ‘n ongereguleerde skema 30% rente kan vra as die wet slegs ‘n maksimum rente van 5% toelaat?

Die skema word bedryf deur Maarten Stapelberg van Gansbaai in die Weskaap en Wouter Botha in Polokwane. Ná die FDR se waarskuwing het die Zoutpansberger met ‘n plaaslike finansiële adviseur, mnr. Lourens Greyling, gepraat om uit te vind of hy bewus is van die skema en of hy kennis dra van enige plaaslike beleggers wat by Choice Lifestyle belê het?

“Hierdie ouens is tans baie groot in Polokwane en ek is seker daarvan dat daar ook in Louis Trichardt heelwat beleggers is wat by Choice Lifestyle belê het,” het Greyling Dinsdag gesê.

Volgens Greyling waarsku hy reeds vir etlike maande plaaslike beleggers om nie by Choice Lifestyle te belê, en ook nie by enige ander instansies wat buitensporige maandelikse opbrengste belowe nie. “Daar is mense wat my kom vra het vir finansiële advies. Hulle was egter nie tevrede met die 8% tot 9% jaarlikse opbrengs wat lae-risiko beleggings kan lewer nie. Die een belegger het reguit vir my gesê hy verkies dan eerder die 15% per maand wat Choice Lifestyle hom bied. Ek het vir hom gesê hy kan maar vir hom ‘n groot pak sneesdoekies gaan koop, want hy gaan lang trane huil,” het Greyling gesê.

Greyling het beleggers weereens daarop gewys dat wanneer iets te goed klink om waar te wees, dan is dit te goed om waar te wees. “Geen beleggingsproduk kan vir jou 15% per maand opbrengs lewer nie. Dit is basies ‘n 180% opbrengs per jaar op jou belegging,” het Greyling gesê.

Volgens Greyling is formele beleggingsprodukte geskep om welvaart te beskerm en risiko’s te bestuur. Dit sluit in mark-wisselvalligheid en inflasie. “Min beleggers sal ryk word uit formele gereguleerde beleggings. Ons is nie daar om jou ryk te maak nie. Ons is daar om jou geld te beskerm en dit te laat groei met ‘n 1% tot 6% bo inflasie per jaar, afhangend jou risikoprofiel,” het Greyling gesê.

Greyling het verder verduidelik dat volgens FAIS-wetgewing alle finansiële adviseurs ‘n risiko toleransie analise van elke belegger moet doen. “Met ander woorde, die beleggers se vermoë om beleggingswisselvalligheid te hanteer, moet bepaal word. Dit, tesame met die doel van die belegging en die beleggingshorison, word gebruik om ‘n kliënt se beleggingsrisikoblootstelling te bepaal. Hiervoor moet ek opgelei wees en moet ek elke jaar ingevolge die FAIS-wetgewing my akkreditasie hernu. Hierdie ouens van Choice Lifestyle is nie geakkrediteer nie,” het Greyling gesê.

Wat laasgenoemde betref, het Greyling gesê hy kan nie vir beleggers sê hul mag of mag nie met Choice Lifestyle besigheid doen nie. Hy het egter gesê beleggers moet versigtig moet wees wanneer hulle wel besluit om met Choice Lifestyle besigheid te doen. “Hou in gedagte dat alle vorige instansies wat buitensporige rente opbrengste belowe het, nie meer bestaan nie,” het Greyling gesê. Hy het laastens gewaarsku dat mense onder geen omstandighede moet skuld maak om in so 'n besigheid te belê nie. “Die probleem is dat mense geld gaan leen teen 15% tot 20% per jaar om 15% ‘n maand terug te kry. Wanneer die kaartehuis dan inmekaar tuimel, verloor hulle alles - huise en voertuie ingesluit,” het Greyling gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines