ADVERTISEMENT:

 

Die 48-jarige Michael Kock, kort ná sy ses-en-‘n-half ure operasie om die skade aan sy nek te herstel. Foto verskaf.

Dokters stomgeslaan

 

News  Date: 30 October 2017

 

Dit is nie aldag wat mens jou nek op twee plekke breek en dan nog self huis toe kan ry nie. Dit is presies wat die 48-jarige Michael Kock van Louis Trichardt gedoen het en dokters beskryf dit as ‘n mediese wonderwerk dat hy in die eerste plek nog leef.

Michael en sy vrou, Christa, het op Vrydag, 13 Oktober, na Durban vertrek vir ‘n welverdiende vakansie. Michael, ‘n kranige branderplankryer, kon nie wag om in die see te kom nie. Hy het die Sondag bietjie gaan branderplank ry en besluit om sommer die volgende dag weer vroeg see toe te gaan by Durban se North Beach.

Maandag, 16 Oktober, is egter die dag wat sy lewe onomkeerbaar verander het. Hy het ‘n wipe-out op sy branderplank gehad. “Toe ek my kop bokant die water kry, het ek onmiddellik pyn gevoel en geweet iets is fout. Ek het eers gedink my arm is gebreek,” het Michael Woensdag aan die Zoutpansberger gesê.

Michael het uitgeswem strand toe. Hy sê hy was bietjie vies, want dit was sy eerste goeie golf van die dag en hy het nog gedink hoe lekker ry die golf.

Terug op die strand het Michael sy goed bymekaar gemaak, in sy kar geklim en teruggery woonstel toe waar Christa vir hom gewag het. By die woonstel het hy gou nog gestort, waarna hy vir Christa gevra het om hom hospitaal toe te neem.

Michael-hulle is na die Entabeni-hospitaal, waar hy opgeneem is. “Die suster het dadelik gesien ek is in groot pyn en dat daar iets verkeerd is met my nek. Sy het my dadelik in ‘n nekstut geplaas, waarna ek gestuur is vir X-strale. Die dokter was nie tevrede met net die X-strale nie, en het my ook gestuur vir ‘n MRI,” sê Michael.

Die uitslag van die toetse het Michael se dokter stomgeslaan – sy nek was op twee plekke gebreek. “Die dokter het vir my gesê dat, afgesien daarvan dat ek nog uit die see uit kon loop, dit ‘n wonderwerk is dat ek nog leef,” het Michael gesê.

Michael is onmiddellik oorgeplaas na die intensiewesorgeenheid van die hospitaal en kort daarna is daar op hom geopereer. Dit het medici ses-en-‘n-half ure geneem om die skade aan Michael se nek te herstel. Twee van sy nekwerwels moes heeltemal vervang word, waarna die res aan dié twee vasgeheg is. Die operasie was so delikaat dat dokters ná die tyd opgemerk het dat ‘n fout van 1mm in enige rigting hom verlam of dood sou gelaat het.

Michael het hierna weer die medici verbaas. “Hulle het vir my gesê ek sal ten minste vier dae in die intensiewesorgeenheid moet bly. Twee dae later het die dokter vir my gesê hy kan dit nie verstaan nie, maar ek wys geen pyn nie en kan maar huis toe gaan,” het Michael gesê.

Huis toe het egter nie beteken Louis Trichardt toe nie. “Die dokter het gesê ek moet maar naby bly, want hulle wil my oor ‘n week weer sien,” het Michael gesê. Dit was dan ook so dat Michael Woensdag terug is hospitaal toe. “Die dokter het gesê hy is tevrede, ek kan maar huis toe gaan. Sy enigste voorwaarde was dat ek nie selfs mag bestuur nie. Christa bestuur nou,” het Michael aan die Zoutpansberger gesê op pad terug van Durban af. Hulle sou egter Woensdag net tot in Johannesburg ry.

Mense wat vir Michael ken weet dat hy ‘n baie aktiewe mens is. Buiten vir branderplank ry, is hy ook mal oor motorfietsry. “Die dokter het vir my gesê ek moet dit vir die volgende drie maande maar rustig vat, so geen surfing en motorfietsry vir my nie,” het Michael gelag. Hy het gesê al pyn wat hy tans ervaar is bietjie pyn is sy arm vanweë ‘n senuwee wat deur die nekwerwels seergemaak is.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines