

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 November 2017
Jacques Els, wat erken het dat hy onwettig in besit was van tientalle renosterhorings, vat nou sy saak na die Konstitusionele Hof.
Els het Dinsdag, 17 Oktober, in die Louis Trichardt Streekhof verskyn waar sy borg van R4 miljoen verleng is, terwyl sy saak verder gevoer sal word. Hy is in Maart 2012, ingevolge ‘n pleitooreenkoms met die Staat, skuldig bevind op aanklagte wat verband hou met die onwettige handel en besit van renosterhorings sonder die nodige permitte. Hy is, onder andere, tot agt jaar direkte gevangenisstraf gevonnis, waarvan hy al vyf maande uitgedien het.
Els het in sy pleitooreenkoms verduidelik dat hy die renosterhorings aangekoop het met die doel om dit later te verkoop as die verbod op die handel in renosterhorings gelig sou word. Hy het die horings aangekoop van sy medebeskuldigde, wyle mnr. Tom Fourie (51), wat in 2010 sy eie lewe geneem het. Die renosters is verdoof en hulle horings is geoes. Nie een is gedood nie. Els het gesê hy glo sy optrede het verseker dat hulle nie deur stropers geteiken word nie. Sy plan was om later om bergingspermitte aansoek te doen, maar voordat hy dit kon doen, is die horings vanuit sy woning in Thabazimbi gesteel gedurende September 2010.
Die Appèlhof het bevind dat die Louis Trichardt streekhof gefouteer het deur Els te hanteer asof hy ‘n stroper was wat renosters gedood het, terwyl hy eintlik net onwettig in besit van horings was wat onder verdowing afgesaag is. Die Appèlhof het egter bevind dat Els se plan om weer die horings te verkoop wel ‘n bedreiging vir renosters ingehou het. Daarom het die hof gevoel dat ‘n opgeskorte vonnis die verkeerde boodskap sou uitstuur. Els se oorspronklike tronkstraf is derhalwe van die oorspronklike agt jaar na vier jaar verminder.
Els pleit nou by die Konstitusionele Hof om die feite van die saak in heroorweging te neem. Hy het weer beklemtoon dat nie een van die renosters waarvan hy die horings in sy besit gehad het, doodgemaak of beseer is nie.
Els het ook aan die hof uitgewys dat die Appèlhof se beslissing nou tot gevolg sal hê dat ‘n boetevonnis nie sommer oorweeg sal word vir toekomstige persone wat renosterhorings besit of dit vervoer nie “omdat dit die verkeerde boodskap sal uitstuur.” Sy hofstukke is op 13 Oktober by die Konstitusionele Hof ingedien. Weens die werkslading van dié hof, kan dit meer as ‘n jaar neem voordat Els ‘n antwoord sal ontvang.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
