

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 November 2017
Staatsbeheer wat teen demokrasie indruis. Dit is die mening van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) oor die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys.
Die wetsontwerp is onlangs gepubliseer en is daarop gemik om sekere funksies van skoolbeheerliggame in te perk, insluitend aanbevelings oor sekere aanstellings, toelatings- en taalbeleid, asook bepaalde finansiële funksies. “Hierdie wetsontwerp neem ons terug na ‘n model waar die staat beheer het oor alles. Dit druis ook in teen die Suid-Afrikaanse Skolewet, wat voorsiening maak vir openbare skole en nié staatskole nie,” het dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS, in ‘n persverklaring gesê.
Deacon het gesê die publiek kan tot 10 November vanjaar kommentaar lewer oor die wetsontwerp. Hy het namens die federasie alle onderwysrolspelers aangemoedig om kommentaar te lewer. ‘n Afskrif van die wetsontwerp is op FEDSAS se webtuiste beskikbaar by www.fedsas.org.za onder die skakel: Wat is nuut? “Ouers moet kennis neem van die feit dat hierdie wetsontwerp ‘n beperking plaas op ‘n ouer se reg om besluite te neem oor hul kinders se onderrig. Dit is in wese ‘n skending van die Grondwet, want skoolbeheerliggame gee gestalte aan hierdie reg van ouers om betrokke te wees by besluitneming,” het Deacon gesê.
Deacon het gesê dit is uiters belangrik vir ouers om betrokke te wees in die formele strukture van skoolbeheer en –bestuur. “Indien beheerliggame nie na wense funksioneer nie of indien ouers en ander onderwysrolspelers nie betrokke is by hierdie strukture nie, versterk dit die aanspraak van die wetsontwerp,” het Deacon gesê.
Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys stel onder meer voor dat beheerliggame geen rol mag speel in die aanstel van skoolvlak-departementshoofde, adjunkhoofde en skoolhoofde nie. Tans maak ‘n skool se beheerliggaam ‘n aanbeveling oor sodanige aanstellings. Ander funksies van beheerliggame wat onder skoot is, is toelatings- en taalbeleid, asook sekere finansiële funksies.
Deacon het die wysigingswetsontwerp met die omstrede E-tolstelsel vergelyk. “Indien die ernstige tekortkominge in hierdie voorgestelde wetsontwerp nie uitgewys en aangepas word nie, sal ons, soos met die E-tol-stelsel, miljoene rande aan reaktiewe regsaksies en ander optrede moet bestee. Nou het ons egter die geleentheid om proaktief te wees. Dit kan slegs gebeur indien alle onderwysrolspelers daadwerklik betrokke raak, kommentaar lewer op die wetsontwerp en bewusmaking rondom die implikasies skep,” het Deacon gesê.
FEDSAS is ‘n leidende rolspeler op die gebied van onderwysbeheer en –bestuur en die organisasie se span regskenners het die voorgestelde wysigingswetsontwerp deeglik ontleed. “Dit is FEDSAS se mening dat hierdie wetsontwerp ‘n poging is om die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel te kaap en dit kan onder geen omstandighede toegelaat word nie,” het Deacon gesê.
FEDSAS het reeds ’n veldtog op sosiale media geloods met die hutsmerk #StopSkoleKaping en #StopSchoolCapture.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
