ADVERTISEMENT:

 

Verdagte in Fisser-moord uiteindelik vas

 

News  Date: 04 August 2006

 

Talle inwoners van Makhado (Louis Trichardt) het hierdie week ‘n sug van verligting geslaak met die nuus dat die vermeende moordenaar van mnr. Ben Fisser agter tralies is. Mnr Fisser is in April vanjaar vermoor.

Die arrestasie van die man, van wie die beskrywing ooreenstem met die persoon wat vir maande lank inwoners in veral Kruger- en Burgerstraat geterroriseer het, het gevolg na knap speurwerk deur drie lede van die Makhado polisie se Misdaadvoorkomingseenheid.

Die verdagte is Vrydagoggend, 28 Julie, omstreeks sesuur vasgetrek. Hy het gepoog om op ‘n bus te klim terug na Elim by die taxistaanplek in Burgerstraat, nadat hy klaarblyklik weer die aand bedrywig was met sy onheilighede.

Volgens inligting is die man (in sy twintigs) reeds positief verbind met 16 misdade wat strek vanaf huisbraak tot gewapende roof. Alhoewel dit weliswaar ‘n geval is van “moenie jou kuikens tel voordat hulle uitgebroei is nie”, is daar ‘n sterk vermoede dat hy betrokke was by die moord op mnr. Fisser, asook die skietery op die Van den Berg-egpaar. Gerugte doen ook die rondte dat dit dieselfde verdagte is wat verantwoordelik was vir die diefstal van ‘n vuurwapen in Van Warmelostraat, asook die man wat ondermeer ingebreek en geroof het by die wonings van mev. Rita Swart, dr. Dirk en mev. Vossie Jacobs, Leon Furstenburg en vele andere.

Die verdagte het Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn. Sy saak is egter uitgestel na 11 Augustus vir verdere ondersoek en regshulp. Sy naam word, op versoek van die polisie, nie bekend gemaak nie, weens die sensitiewe aard van die ondersoek. Daar moet nog uitkenningsparades gehou word en in hierdie stadium wil die polisie niks doen wat hul saak in die wiele kan ry nie. Na alle waarskynlikheid sal die verdagte se verhoor oorgeplaas word na die hooggeregshof.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines