

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 August 2006
‘n Inwoner van die Soutpansberg moes die afgelope week inderhaas mediese behandeling ontvang, nadat hy beseer is tydens ‘n onderonsie met ‘n hondsdol hond.
Die voorval op Woensdag, 27 Julie, het weer die soeklig geplaas op die heersende hondsdolheidkrisis in die streek en provinsie.
Mnr. Johan Crause, ‘n werknemer van die plaas Waterfall, vertel dat hy op pad was om die fabriek op die plaas oop te sluit, toe hy skielik deur ‘n hond aangeval is. Hy moes herhaalde pogings aanwend om die dol hond te verwilder, waarna hy die eienaar van die plaas, mnr. Mauritz van de Vyver, van die voorval ingelig het. Maurits het dadelik na die toneel gegaan met sy haelgeweer en gepoog om die hond te skiet, maar die skoot was mis. Die hond het hierna weggehardloop.
‘n Soektog na die hond is dadelik geloods. Buurplase is ook van die voorval ingelig deur middel van die plaaswag-netwerk. Die hond is later weer op Mauritz se plaas opgemerk, maar het weer die bosse in verdwyn. Sy dae was egter getel, want toe die dol hond weer opgemerk is, kon ‘n buurman daarin slaag om hom dood te skiet.
Plaaslike staatsveearts Elana Conradie het die volgende dag die hond na Onderstepoort geneem waar daar positief vasgestel is dat die dier wel hondsdolheid gehad het.
Boere in die omgewing van die voorval is kort hierna versoek om die nodige voorsorgmaatreëls te tref. Intussen het Johan, wat krapmerke aan sy been opgemerk het, begin met mediese behandeling teen hondsdolheid. Die besmetting hou noodlottige gevolge in vir persone wat versuim om mediese behandeling te ontvang nadat hulle deur ‘n hondsdolhond beseer is, veral wanneer die simptome reeds begin wys.
Conradie het na die voorval gesê dat sedert Januarie vanjaar tot Julie is daar in die Vhembe-area reeds 35 bevestigde gevalle van hondsdolheid, waarvan ses gevalle in die Levubu-omgewing voorgekom het. Die meeste van die besmette diere was honde. Ander diere wat besmet is, was onder meer jakkalse, beeste, katte, boerbokke en skape.
Volgens Conradie is daar twee groepe kenmerkende simptome van hondsdolheid by huisdiere. Die eerste groep kenmerke behels onder meer aggressiwiteit, wat gewoonlik tot gevolg het dat besmette diere mense en ander diere aanval. Daar is ook baie speekselafskeiding en die onvermoë om te sluk of te drink.
Die tweede groep kenmerke, of die “dom” vorm soos daarna verwys word, behels dat die besmette dier swak lyk en gewoonlik verlam is in die agterste kwart van die lyf. Die simptome by beeste is gewoonlik ‘n baie hees bulk en by skape en boerbokke is daar ‘n onophoudelike geblêr. Nadat die tekens van hondsdolheid by enige dier opgemerk is, sal die betrokke dier nie langer as sewe dae bly leef nie. Teen hierdie tyd kan die dier reeds vir twee weke lank al besmet wees.
Hondsdolheid kan aan mense oorgedra word deur die byt van ‘n dol dier, maar blootstelling aan die besmette dier se speeksel, veral ten opsigte van oop wonde, is netso lewensgevaarlik. Die simptome by mense behels hoofpyn en koors, irritasie, rusteloosheid en opgewondenheid, spierpyne, naarheid, ‘n vrees vir water, verlamming, geestesongesteldheid, oormatige speeksel en probleme om te sluk. Persone wat gebyt word, ongeag hoe ernstig, moet dadelik gaan vir behandeling.
Die belangrikste beheermiddel teen hondsdolheid bly voorkoming. Daar is ‘n wetlike verpligting dat alle honde en katte vroegtydig inenting moet ontvang. Hondsdolheid entstof kan vanaf private diereklinieke verkry word of gratis vanaf die plaaslike kantore van die staatsveearts by tel. (015) 516 4971 of 2.

ADVERTISEMENT:
