

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 November 2017
Dan Kriek, president van AgriSA, het Maandag in ‘n persverklaring gesê dit is uiters belangrik dat misdaadbestryding ‘n inklusiewe proses moet wees, omdat dit ‘n probleem is wat álle Suid-Afrikaners raak.
Volgens AgriSA is Suid-Afrikaners keelvol vir misdaad en dít raak toenemend sigbaar, omdat gemeenskappe opstaan en aan protesaksies deelneem. “AgriSA is genader om deel te neem aan ‘n protesoptrede na die Uniegebou in Pretoria wat op Saterdag, 25 November, gaan plaasvind. AgriSA het sy lede-organisasies (wat nege provinsiale, 25 bedryfsorganisasies en 21 korporatiewe lede insluit) tydens ‘n uitgebreide konsultasieproses hieroor geraadpleeg. Verteenwoordigers van lede-organisasies het AgriSA op 13 November by die vergadering van AgriSA se landelike beveiligingskomitee in Centurion versoek om nie aan die protesoptrede deel te neem nie,” het Kriek gesê.
Volgens AgriSA het hulle na raming 28 500 boerelede en dra die belange van bykans 800 000 plaaswerkers op die hart. “Sonder uitsondering het verteenwoordigers tydens die vergadering besluit dat dit nie nou die regte tyd is om by verdere protesoptredes betrokke te raak nie, omdat Swart Maandag die boodskap reeds baie duidelik aan die regering oorgedra het dat sy burgers nou genoeg gehad het van misdaad. Die gevoel onder ons lede is dat die inklusiewe karakter van Swart Maandag nou verpolitiseer kan word en dat politieke ondertone ons nie nader aan ‘n oplossing sal bring nie,” het Kriek gesê.
Volgens Kriek is voedselsekerheid die uitkoms van ‘n gesamentlike poging tussen kommersiële en opkomende landbouers en plaaswerkers en daarom is dit belangrik om inklusiewe oplossings vir die misdaadkwessie te vind. “Ons fokus is nou om oplossinggedrewe te werk. Dis nou die tyd vir nugtere leierskap en kalmte. Landsburgers, boere en plaaswerkers moet hande vat en misdaad op grondvlak in ons eie gemeenskappe blootlê,” het Kriek gesê.
Kriek het gesê boere wil inklusief deelneem aan die proses om oplossings vir die reusagtige misdaadprobleem te vind en om die boodskap by die regering tuis te bring dat hulle ontevrede is met die manier waarop misdaad tans bestry word. “AgriSA veroordeel ten sterkste alle vorme van plaasgeweld en sal steeds die regering bly beïnvloed om dit effektief te bekamp … Ons en die polisie is tans besig om oplossings te vind vir effektiewe implementering van strategie en beleid om landelike veiligheid te verbeter. Ons beskou hierdie proses, asook die oplossings wat dit kan bied, as ‘n prioriteit,” het Kriek gesê.
Kriek het gesê AgriSA verstaan dat boerderygemeenskappe gefrustreerd is, maar dat dit nou die tyd is om saam te staan om die euwel van misdaad inklusief te beveg. “Misdaad kan ons verdeel, maar ons moet dit eerder as ‘n geleentheid gebruik om aan gesprekke deel te neem waarby almal betrokke is,” het Kriek gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
