ADVERTISEMENT:

 

Die 48-Johann Cornelius en sy liefling brak, Babbatjie. Hy en Babbatjie is ‘n bekende gesig by Ocean Basket in Louis Trichardt waar hy saans voertuie oppas.

Al wat Johann wil doen is ‘n eerbare paar rand verdien

 

Al wat die 48-jarige Johann Cornelius van Louis Trichardt wil doen is om te werk.

“My pa het ons geleer dat die Here jou hande gegee het om mee te werk,” het Johann gesê. Baie inwoners sal hom ken as die karwag wat elke aand met Babbatjie, sy hond, motors by Ocean Basket oppas. Dit is beslis nie ‘n glansberoep nie, maar dit is ‘n werk wat Johan pligsgetrou verrig.

Johann het darem ook al ‘n voorsmakie gehad van die “goeie” lewe waar hy ‘n senior pos in die sekuriteitswêreld beklee het. Sy drome het egter almal verbrokkel nadat hy ‘n massiewe hartaanval gehad het en hy medies ongeskik verklaar is om te werk. Nou doen hy wat hy kan om elke maand die rekeninge te betaal.

Maar dit is nie maklik nie. Die grootste stryd wat Johann ervaar is hoe ongeskik mense met hom is. “Mense wil nie gee nie, want hulle sê ek is ‘n dronklap. Hulle sê hulle sien hoe suip ek bedags in die strate. Ander sê hulle kan sien ek gebruik drugs, terwyl daar ook dié is wat sê ek gebruik Babbatjie om geld te maak. Dit is alles leuens,” het Johann gesê.

Johann sê hy weet van so vier of vyf ander “bedelaars” in die dorp wat nie so vriendelik is nie. “Ek is seker mense verwar my met een van hulle. Ek drink nie en ek gebruik nie dwelms nie. Ek lê ook nie bedags in die strate nie, want weens my mediese toestand moet ek baie rus. So ek slaap meeste van die dag tot ek moet opstaan om te gaan werk. Wat Babbatjie betref – sy is my lewe. Waar ek gaan, gaan Babbatjie. Ons is altyd saam,” het Johann gesê.

Johan sê dat alhoewel hy nie baie verdien nie, hy darem van sy rekeninge, soos huur, kan betaal. “Die feit is, ek vra nie vir mense vir geld nie. Dit is hulle besluit of hulle vir my iets wil gee. Dit is egter hartseer dat mense jou eerder sal vloek en verkleineer as om vir jou iets te betaal,” het Johann gesê.

News - Date: 01 December 2017

Recent Articles

Search for a story:

 

Selfs Babbatjie kry ‘n reënjas as dit begin reën. Baas Johann sê egter dat sy nou ‘n nuwe jassie moet kry, want sy het hierdie een al bietjie uitgegroei.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: