

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 August 2006
‘n Bakleiery tussen twee skoolseuns het gelei tot ‘n ernstige kopwond toe een van die seuns se agterkop ‘n klaskamervenster uitgestamp het tydens ‘n onderonsie op die skoolterrein.
‘n Ontstelde mev. Christa Strydom, moeder van Jan Theunissen, ‘n Graad 10-leerder van Hoërskool Louis Trichardt, het haar seun vol bloed by die dokter se spreekkamer gekry.
Jan (17) het ‘n kopwond opgedoen toe sy agterkop deur ‘n venster gestamp het en al sy klere was bebloed. Hy het steke in die kop en lip ontvang. ‘n Argument oor ‘n meisie het blykbaar aanleiding gegee tot die geveg. Theunissen het ‘n klag van aanranding by die polisie teen ‘n Graad 11-leerder van die skool gelê. Die voorval het op Donderdag, 10 Augustus, tydens eerste pouse op die skoolterrein plaasgevind.
Die skoolhoof, mnr. Henry Denner, het Maandag (14de) gesê dat hul ondersoek nog nie afgehandel is nie. Hy het na die voorval ‘n onderhoud met die betrokke Graad 11-seun gehad, maar sou nog ‘n onderhoud met Theunissen voer wanneer hy terug is by die skool.
“Dit lyk op hierdie stadium na privaatsake wat ouens skool toe bring. Ons ondervind egter baie min sulke insidente by die skool,” het mnr. Denner gesê.
Dinsdag was mnr. Denner uitstedig en het die adjunkhoof, mnr Johann Calitz, gesê dat die polisie by die skool was en dat die ondersoekbeampte met die betrokke ouers wil gesels. Die polisie wil die saak tesame met die ouers oplos tot voordeel van almal. Hy het gesê dat hy nie enige kennis dra van die inhoud van die onderhoude wat deur die hoof met die betrokkenes gevoer is nie.
“Die normale prosedure is dat so ‘n saak na die beheerliggaam verwys word om volgens die dissiplinêre stelsel hanteer te word. Dit is ook ‘n saak wat uiteindelik na die skool se jeugwerker verwys kan word. Ons gaan dit nie net los nie; ons gaan met die outjies bly werk,” het Calitz gesê.
Strydom het haar kommer uitgespreek oor die voorval.
“Miskien moet die skool kameras inbring om te kyk wat onder hulle neuse aangaan,” het sy gesê.
Denner het Maandag gesê dat alles wat die skool in plek kon hê om so iets te voorkom, in plek was. Personeel het terreindiens gedoen, maar kon uiteraard nie oral wees nie. Die LUK-lede het ten tye van die insident ‘n kamp bygewoon, “maar as hulle daar was, sou die voorval nie noodwendig voorkom kon gewees het nie, maar daar sou waarskynlik vinniger reaksie gewees het.”
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
