

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 August 2006
Die onlangse uitbraak van bek-en-klouseer in die noorde van die Limpopo Provinsie is onder beheer gebring.
Die uitbraak is die eerste keer geïdentifiseer op 31 Julie by die Matiani-dip naby die Kruger Nasionale Park se Punda Maria-ingangshek. Volgens inligting is 11 diere uit ‘n groep van 45 met bek-en-klouseer gediagnoseer by Matiani en ‘n tweede dip in die omgewing, maar gelukkig het die uitbraak nie versprei nie.
Volgens dr. Edwin Dyason, die adjunk-direkteur van Dieregesondheid in Limpopo, is die verspreiding van die siekte hokgeslaan. Hy sê boere het geen rede om hulself verder te bekommer nie.
Dyason sê dat die uitbraak stadig versprei het, aangesien dit binne ‘n inentingsgebied voorgekom het wat deurlopend gemonitor word. In totaal is die siekte by 41 diere uit ‘n totaal van 1 300 opgemerk.
Die betrokke gebied waar die uitbraak voorgekom het, sal vir sowat drie maande onder kwarantyn moet bly totdat alle diere skoon getoets word vir bek-en-klouseer. Die drie maande periode sal egter ‘n groot ongerief vir inwoners binne die are veroorsaak en alle diere en goedere wat vermoedelik met bek-en-klouseer virus besmet is, sal deur die betrokke departement gekonfiskeer word.
Dyason sê die virus kan deur melk, gras en vleis verder versprei en dus sal geen van hierdie produkte toegelaat word om deur die kwarentyngebied te beweeg nie.
Vir meer inligting kan dr. Dyason geskakel word by tel. 082 889 3806 of (015) 295 7090.

ADVERTISEMENT:
