

ADVERTISEMENT:

'n Skets van die eertydse dorpie Schoemansdal met die kerkie in die agtergrond.
News Date: 15 December 2017
Die gedagte om ‘n feesterrein vir die inwoners suid van die Soutpansberge te vestig, het waarskynlik sy ontstaan in 1916 aan JR van Breda te danke. Volgens geskiedskrywers het hy die idee geopper dat daar ‘n terrein gevestig word waar die jaarlikse “Dingaansfees” gehou kon word.
Van Breda was heel bedrywig in politieke kringe en was destyds die Suid-Afrikaanse Party (SAP) se kandidaat in die Soutpansberg. Sy voorstel het vinnig aanklank gevind en die volgende jaar, op 15 Desember 1917, is ‘n vergadering gehou op die terrein naby die klein kerkhof digby waar die destydse Schoemansdal Dorp gestaan het. Tydens die vergadering is besluit om ‘n jaarlikse fees op die geskiedkundige terrein vir inwoners van die Soutpansberg te hou.
Die eerste fees is die volgende dag gehou en deur sowat 2 000 mense bygewoon. Die destydse Minister van Lande, Kol. Hendrik Mentz, was die feesredenaar. Dit was waarskynlik nie toevallig dat Kol. Mentz genooi is nie, want ná afloop van die fees is hy genader met die versoek dat die grond deur die staat aangekoop moet word om te dien as ‘n feesterrein.
Kol. Mentz was dadelik bereid om sy samewerking te gee en het hom beywer om die Unie-regering sover te kry om die grond te probeer bekom. Die eienaars van die twee plase, Lincoln en York, was bereid om dit te ruil vir ander plase en die besitreg van die grond het oorgegaan na die Departement van Lande. Die reg is daarna toegeken aan die feeskomitee van Schoemansdal om die grond vir feesdoeleindes te gebruik.
Die jaar 1917 was egter vir die inwoners van die Soutpansberg om ander redes ook belangrik. Dit was 50 jaar sedert die dorpie Schoemansdal inderhaas ontruim moes word. Op 15 Julie 1867 het die groot uittog plaasgevind en die waens het begin koers kies in die rigting van Marabastad, Renosterpoort, Makapaanspoort en selfs Pretoria. Dit het ‘n einde gebring aan ‘n dorp se geskiedenis wat net oor die 20 jaar gestrek het.
‘n Dorpie langs die Soutpansberg
Die droom om ‘n nedersetting net suid van die Soutpansberg te vestig, het waarskynlik al in die winter van 1836 ontstaan toe Andries Hendrik Potgieter ‘n vinnige besoek afgelê het by Trichardt se trekgeselskap. Dit was egter eers 12 jaar later wat Potgieter se trekgeselskap, sonder hom, by die terrein opgedaag het wat later as Schoemansdal bekend sou staan.
Die eerste groep wittentwaens het op 3 Mei 1848 onder aanvoering van Jan Valentyn Botha by die Soutpansberg aangekom. Die gesinne wat hulle hier kom vestig het, was die Potgieters, die Bothas, die Duvenages, die Nels, die Wolhuters, die Breeds, die Groblers en die Van Stadens. Aanvanklik is daar na die plek as Oude Dorp verwys, maar dit is toe herdoop na Soutpansbergdorp, na aanleiding van die soutpanne net noord van die bergreeks.
Vir die eerste klompie jare het die dorp ongestruktureerd gegroei. Die aanvanklike tentwaens is vervang met klein huisies en stelselmatig het al hoe meer mense hul hier in die noorde kom vestig. Die 1850’s was ‘n bloeityd vir handel in die Soutpansberg en smouse het vanuit die Kaapkolonie, Natal en selfs Mosambiek gekom om die groot hoeveelheid ivoor, renosterhorings, velle, gelooide leer, katoen en selfs brandewyn te koop of te ruil vir hul handelsware.
In Februarie 1855 is Stephanus Schoeman tot kommandant-generaal van die Soutpansberg verkies. Alhoewel Schoeman nie in alle kringe baie gewild was nie, het hy moeite gedoen om te sorg dat erwe uitgemeet word en ontwikkeling meer gestruktureerd geskied. Hy het ook terstond die dorp na Schoemansdal herdoop, wat deur baie beskou is ‘n wyse “om bevrediging aan sy eersug te gee”. Teen die einde van 1855 was daar tussen 50 en 60 huise op die dorp. Die aanvanklike “paalhuise” het stelselmatig begin plek maak vir baksteenhuise en die eenvoudige wonings het al deftiger begin word.
Die inwoners van Schoemansdal het van alle uithoeke van die wêreld gekom. Behalwe die eertydse “Kapenaars”, wat oorwegend Hollands was, was daar Skotte, Iere en selfs Engelse. Die permanente handelaars het ook ander name ingesluit soos Augusto de Carvalho (Portugees) Cassimo Gamaal (van Indiër-afkoms) en Casimiro Simoens (‘n Goanees). Die groot aantrekkingskrag was die jagvelde en die rykdomme wat daaruit verdien kon word. Die bekende jagter en handelaar, Joao Albasini, het bereken dat daar jaarliks tussen 70 en 80 ton ivoor ter waarde van £120 000 na Natal en die Kaapkolonie uitgevoer is. ‘n Groot hoeveelheid ivoor het ook hul weg na Mosambiek gevind.
Die kosmopolitaanse karakter van die eertydse Schoemansdal word goed gereflekteer in die name op die gedenksteen by die kerkhof. Die bekendste naam is dié van die trekleier, A.H. Potgieter, maar ‘n spesiale grafsteen is ook opgerig vir Josina van Warmelo, vrou van die Schoemansdal se laaste voltydse leraar, ds. N.J. van Warmelo. Die naamlys sluit egter persone in soos Horney (‘n Engelsman), Ebenhard (‘n matroos) en Glynn (‘n Engelse skrynwerker). Augusto de Carvalho (‘n Rooms-Katoliek) en Casimiro Simoens is ook daar begrawe.
Die dorpie het bly groei sedert 1855 en in die volgende dekade is ‘n kerkgebou opgerig, ‘n skool is gevestig en ‘n gereelde posdiens na die gebiede suid van die Vaalrivier ingestel. Met die totstandkoming van die Zuid-Afrikaansche Republiek in 1852 het die kwessie van ‘n “hoofstad” vir die republiek ter sprake gekom en Schoemansdal is as ‘n geskikte kandidaat hiervoor beskou.
Een aspek waarin die bestuur van Schoemansdal egter gefaal het, was om goeie betrekkinge met hul bure, spesifiek die Bavenda-stamme, te handhaaf. Die jagters het die plaaslike stamme se mans gebruik om te help met die safari’s en buiten as draers is hul vernuf ook ingespan om self die skietwerk te doen. Baie van die wapens het in die hande van die Bavenda-stamme beland, wat die magsbalans geleidelik begin verskuif het. Daar was egter ook toenemend gevalle van magsmisbruik en selfs die handel in die sogenaamde “swart ivoor” (die verkoop van swart “weeskinders”) het baie spanning meegebring.
Vanaf 1864 het die sporadiese aanvalle op Schoemansdal begin toeneem. Die aanvalle is geloods deur die stamhoof Khatelage (ook genoem Katse-Katse of Katlagter), ‘n oom van die Venda-koning, Makhado. Die ZAR is genader om hulp en op 6 Junie 1867 het kommandant-generaal Paul Kruger by Kranskop (naby wat ons vandag ken as Modimolle) gearriveer met 400 soldate. ‘n Tekort aan manskappe, ammunisie en ‘n algemene gebrek aan motivering het egter dinge vir Kruger moeilik gemaak. Heelwat van die ZAR se burgers was van mening dat die Schoemansdallers hul eie probleme veroorsaak het en dit self moes hanteer. Kruger het spoedig besef dat die opdrag om Katse-Katse uit sy goed-verdedigde vesting te verdring, nie moontlik gaan wees nie.
Te midde van baie teenstand, onder andere van ds. Van Warmelo, is die opdrag op 12 Julie gegee dat Schoemansdal ontruim moet word. Op 15 Julie het die laaste waens vertrek en enkele dae later was die dorpie geplunder en tot op die grond afgebrand.
‘n Nuwe feesterrein
Van Breda se voorstel in 1916 vir ‘n feesplaas het vinnig meer as net ‘n idee geword. Na die 1917 vieringe is werk gemaak van planne om ‘n meer permanente struktuur op te rig.
Volgens Sidney Miller, bekende argeoloog en ‘n persoon wat in die vroeë 1990’s nou betrokke was by ‘n navorsingsprojek by die geskiedkundige terrein, is ‘n feeshuis aanvanklik opgerig op die fondasie van die ou kerkgebou. Die feesterrein het veral belangrik geword ná die Groot Trek-vieringe in 1938. ‘n Muur is laterjare rondom die kerkhof aangebring.
Dit is nie seker presies wanneer die feeshuis afgebreek is en die saal verskuif is na die perseel reg langs die begraafplaas nie.
Die Schoemansdal opelug museum, wat langs die begraafplaas geleë is, het in September 2008 afgebrand. Die hartbeeshuisie en hutte wat gebou is, is ook in die brand verwoes. Die opelugmuseum het ook verskeie kultuurskatte van die Afrikaanse-, Venda- en Buys-gemeenskappe gehuisves. Hierdie items is ook verwoes in die brand.
(Bronne: O.J.O. Ferreira, Schoemansdal: Van Voortrekkervoorpos tot Volksfeesterrein. en J.C.A Boeyens, Nuwe lig op die uitleg van Schoemansdal.)
Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

ADVERTISEMENT:
