

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 December 2017
Na bykans tien jaar het geregtigheid geskied vir ‘n meisie wat deur haar stiefpa seksueel misbruik is. Die pa het haar nie net misbruik nie, maar ook die dade met sy selfoonkamera afgeneem.
Die meisie het intussen reeds haar 18de verjaarsdag gevier en vandeesweek ingestem dat die man se naam gepubliseer mag word.
Morné Grobler (41) het Maandag in die plaaslike hof aangemeld nadat die Gauteng Hooggeregshof verlede Woensdag (6de) ‘n bevel uitgereik het dat hy terug tronk toe moet gaan.
Grobler is in 2011 in die Louis Trichardt Streekshof skuldig bevind op drie klagte van verkragting, ‘n klag van seksuele aanranding, een van die vervaardiging van kinderpornografie en een klag van die vertoon van kinderpornografie aan ‘n minderjarige.
Die saak teen Grobler dateer terug na 2009 toe hy nog ‘n sersant was by die Lugmagbasis Makhado. Hy was in daardie stadium ook getroud met die meisie se ma. (Hulle is intussen geskei).
Die ma het op 2 November 2009 die ontstellende pornografiese foto’s, nie net van volwasse vroue nie, maar ook van haar dogter op die gesin se rekenaar ontdek.
Grobler is tot lewenslange gevangenisstraf op elk van die drie verkragtings gevonnis. Hy is ook skuldig bevind op die ander drie klagte, waarvoor hy ‘n verdere 10 jaar gevangenisstraf opgelê is. Effektief is hy tot 85 direkte tronkstraf gevonnis.
Hierdie vonnis is twee jaar terug egter deur die Noord-Gauteng Hooggeregshof verminder tot vyf jaar nadat Grobler se appèlaansoek geslaag het.
Regter Ferdi Preller het op 27 Januarie 2015 gesê Grobler se appèl slaag omdat sy verhoor om verskeie redes “blatant onregverdig” en sy straf te swaar was. Volgens Preller was daar geen mediese getuienis gebring om te bewys dat die meisie anaal of vaginaal verkrag is nie. Hy het wel vir Grobler skuldig bevind van orale verkragting, terwyl hy die ander twee klagte van verkragting saamgevoeg het en vervang het met ‘n mindere klag van seksuele aanranding.
Verder het Preller ook gesê dat die meisie nie onwillig deel gehad het aan die verskillende voorvalle nie en dat die toestemming van ‘n 11-jarige irrelevant is as ‘n bydraende element van die misdaad, maar eerder ‘n belangrike faktor is om in ag te neem as dit kom by die uitdeel van ‘n gepaste vonnis.
Derhalwe is Grobler se vonnis, op sy nuwe skuldbevinding, vervang met 10 jaar gevangenisstraf met ‘n vyf jaar effektiewe tronkstraf wat teruggedateer is tot Junie 2011.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het dadelik kapsie aangeteken en die Appèlhof genader. Volgens die Staat het Preller gefouteer in sy interpretasie van die Wet op Seksuele Oortredings.
In Junie vanjaar het die Appèlhof die Staat gelyk gegee en gesê die Hooggeregshof het gefouteer deur meer klem te lê op Grobler se persoonlike omstandighede en die erns van die misdrywe teen die meisie agterweë gelaat het.
Die Appèlhof het beveel dat die saak teruggestuur moet word na die Gauteng Hooggeregshof, sodat Grobler weer gevonnis kan word op die nuwe klagte waarvan hy skuldig bevind is.
Regters Fisher en Munzhelele het op die bank gesit vir die vonnisoplegging en beveel dat Grobler se oorspronklike vonnis, soos dit uitgedeel is op 3 Junie 2011 deur landdros Marie Viljoen in die plaaslike streekshof, gepas is. Die regters het verder beveel dat Grobler in arres geplaas moet word as hy nie onmiddellik aanmeld om sy vonnis te begin uitdien nie.
Grobler is verlede Vrydag deur die Makhado Polisie se kinderbeskermingseenheid in Modimolle gearresteer en na die hof gebring.
Hy het Maandag begin om sy vonnis uit te dien.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
