ADVERTISEMENT:

 

Geveg dreig in kerk

 

News  Date: 25 August 2006

 

Die N. G. Kerk se Ring van Louis Trichardt het op sy jongste sitting ‘n ferm openbare standpunt ingeneem teen die optrede van die kerk se Algemene Sinodale Moderatuur (ASM) in die omstrede kerkeenheid-kwessie.

Die ASM se afkondiging in die nasionale media van ‘n voorneme en besluit oor ‘n nuwe naam vir die N. G. Kerk word deur die Ring van Louis Trichardt verwerp as buite orde, eensydig, ongrondwetlik en dienstig aan “doelwitte en strategieë wat nie kerklik van aard is nie.” Die ring sê die ASM tree heeltemal buite sy mandaat op en sy optrede is separatisties.

Die ASM se houding word toegeskryf aan selektiewe fundamentalisme, ‘n uitgediende bestuursopvatting en ‘n “politieke verstaan van kerkwees.” Die Ring sê die skep van ‘n monopolistiese en monolitiese organisasie net ter wille van organisasie en bestuur, is ‘n uitgediende bestuurstelsel wat uit pas is met die diversiteit van ‘n nuwe eeu.

Op die Ringsitting die afgelope naweek het die ring sy vroeëre standpunt herbeklemtoon dat die ontbinding van die N. G. Kerk vir die stigting van ‘n nuwe kerk waarin die N. G. Kerk moet opgaan terwille van kerkeenheid, heeltemal onnodig en beduidend ongewens is. Dié standpunt, waarin ook ‘n werkbare alternatiewe eenheidsmodel voorgestel is, is in die kerk se lyfblad, Die Kerkbode, gepubliseer en aan die Noordelike Sinode deurgegee, wat die erns van die Ring se standpunt gedeel het en dit deurgegee het aan die Algemene Sinode om in oorweging te neem. In die standpuntstelling is gewaarsku: “Die huidige konventpolitiek en openbare debat in die N. G. Kerk is besig om die kerk se vergaderinge, gemeentes en lidmate in ‘n vernietigende lokval in te lei.” Dié lokval is dat die keuse vir ontbinding ‘n geloofskeuse is wat eers gemaak moet word voor en sonder om die regsposisie en regsimplikasies van die nuwe wettige organisasie te verreken. “Om dit nie te verreken nie is onverantwoordelik. Dit is nie vroom of gelowig nie. Onverantwoordelikheid kan nie in diens staan van kerkeenheid nie.

Om dit wel te verreken, maar dit nie aan lidmate voor te hou om hul keuse te beïnvloed nie, is nie ‘n sensitiewe hantering van versoening nie. Dit is bedrog.”

Die Ring van Louis Trichardt waarsku voorts: “Onverantwoordelikheid, bedrog, misleiding en verskeuring is nie maar net wyses waarop kerkeenheid gefasiliteer word nie. Dit is sonde.” Die Ring sê die opvatting dat die N. G. Kerk verplig is om te ontbind ter wille van kerkeenheid, is nie gegrond op enige Bybelse eis nie. Dit gaan oor ‘n wesentlik wraakgierige poging van die betrokkenes om die N. G. Kerk te onderwerp aan dieselfde restitusie-wetgewing en transformasieproses waaraan alle gemeenskapsinstansies onderwerp word wat op eie taal en kultuurgemeenskappe gefokus is. Die ontbinding van die N. G. Kerk sal bloot die begin wees van dié restitusieproses, wat voorspelbare chaos en duur, vernietigende verskeurdheid tot gevolg sal hê.

“Die bestaande kerkverbande is taalverbande - die Evangelie word aan alle mense in hul eie taal bedien. Om hierdie bedieninge te nasionaliseer, te verengels of te verafrikaniseer, is geen Bybelse eis nie. Die enge selektiewe fundamentalisme wat blyk uit die eise dat die N. G. Kerk moet ontbind ter wille van sigbare kerkeenheid – net dit – sonder enige ander sigbare eenheid in enige ander deel van die kerklike en geestelike lewe, wys op diensbaarheid van die kerk aan doelwitte en strategieë wat nie kerklik van aard is nie,” sê die Ring.

In ‘n mediavrystelling ná afloop van sy jongste sitting sê die Ring van Louis Trichardt hy aanvaar die beginsel van kerkeenheid, maar verwerp die selektiewe fundamentalisme waarmee lidmate onder die indruk gebring word dat die ontbinding van die N. G. Kerk en die opgaan in ‘n nuwe kerkverband die enigste model vir kerkeenheid is, wat deur God self gewil word en volgens die Skrif verpligtend is vir gelowiges.

“Die Bybel skryf nie ‘n spesifieke bestuursmodel voor vir samewerking, samesmelting of ontbindings nie. Die eenheidsmodel van die ASM is in stryd met feitlik alle ander dele van die N. G. Kerk se geestelike lewe waarin diversiteit in aanbiddingstyl, prediking, kategese, belydenis en bestuur die aanvaarbare norm is.”

Lidmate word daarop gewys dat ‘n derde plus een meerderheidstem van kerkrade en lidmate genoeg is om alle besluite wat die N. G. Kerk kan laat ontbind, ongeldig te maak. Die Ring het aangekondig dat hy hom sal beywer vir kerkeenheid waarin die N. G. Kerk nie ontbind nie en om met enige gemeente, ring of sinode saam te werk om hierdie derde-plus-een meerderheidstem landswyd in kerkrade en gemeentes te bevorder.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines