

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 August 2006
Die TLU SA het in ‘n mediavrystelling sy tevredenheid uitgespreek oor die jongste samesprekings in verband met die grondeisekwessie.
Teen die agtergrond van grootskaalse grondeise in die Soutpansberg gebied, het daar op Vrydag, 4 Augustus 2006, ‘n vergadering met mnr. Mashile Mokono: Hoof Grondeise Kommissaris van Limpopo Provinsie, plaasgevind.
Die vergadering is bygewoon deur mnre. Mokono, Malaudzi en Semakaleng vanaf die Grondeise Kommissaris se kantoor en mnre. Gideon Meiring en Fritz Ahrens van Soutpansberg DLU en me. Marie Helm van TLU SA Noord.
Die vergadering van bykans drie en ‘n half uur het ten doel gehad om die grondherverdelingsproses vaartbelyn te maak en veral om die onsekerheid wat aanleiding tot ongegronde gerugte gee, die nek in te slaan.
Hoog op die agenda was die onprofessionele optrede en dreigemente teen grondeienaars, uitgerekte en lang prosedures, en veral die toetrede van opportuniste wat die sensitiewe kwessie van grondeise tot eie voordeel en belang misbruik. In die proses het beide partye hulle verbind tot effektiewe en verantwoordelike optrede wat in die beste belang van gemeenskappe sal uitkristalliseer.
Van die punte wat bespreek is, was dat ná vasstelling dat ‘n eis substansie het en dat die eienaar bereid is om te verkoop, moet die proses hanteer word soos enige normale verkooptransaksie, met ander woorde waarborge by of net ná ondertekening en registrasie, met volle betaling binne drie maande. Mnr. Mokono het homself verbind deur in te stem dat die verkoper binne 30 dae ná ondertekening van die kontrak die helfte van die koopprys sal kry en die restant by registrasie en met die finale inspeksie.
Ander aspekte van bespreking het onder meer ingesluit dat daar geen BTW of Kapitaal Wins Belasting of enige ander kostes deur die verkoper betaalbaar sal wees by aanbieding nie en dat plase uitgeruil kan word om gemeenskappe, veral uit ‘n veiligheidsoogpunt, bymekaar te hou. Dieselfde reël sal geld soos by ‘n aankoop deur die Staat.
Wat betref inspeksies by of net ná registrasie, is konsensus bereik dat verkopers nie wederregtelik enige infrastruktuur mag verwyder nie. Nie alleen bring dit die waardasie en ooreengekome prys in gedrang nie, maar dit reflekteer baie swak op die verkoper.
TLU SA het onderneem om, waar moontlik, die proses van verifiëring te ondersteun en in loco inspeksies volgens eie voorskrifte georganiseerd toe te laat.
Die afgevaardigdes het onderneem om gewillige verkopers te identifiseer en te ondersteun om so spoedig moontlik hul transaksies tot almal se voordeel afgehandel te kry. Daar is genoem dat boere wat wil bly, gerus moet voel en veral weet dat TLU SA alles in sy vermoë doen om sodanige boere in ‘n veilige, volhoubare omgewing te laat funksioneer en leef.
“Ons uitgangspunt is steeds: Die boere is hier om te bly!” het mnr. Meiring gesê. Hy het namens die TLU SA aangebied om grondeienaars wat hul grond wil verkoop, gratis by te staan met die hele proses.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
