

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 August 2006
Die Soutpansberg Distrik Landbou-unie het ‘n dringende versoek aan die nasionale kommissaris van die SAPD gerig om doeltreffende aandag te gee aan die toenemende gewelddadige, gewapende optrede deur Zimbabwiese vreemdes teen inwoners van die Soutpansberg gebied.
Dit volg op die jongste voorval waarin drie Zimbabwiërs verskeie skote met ‘n handwapen geskiet het op ‘n skoolseun op die plaas Riversdale, naby Alldays. Die drie was vermoedelik ook betrokke by ‘n reeks misdade die afgelope vier weke op plase in die Alldays area.
Die voorsitter van die veiligheidskomitee van die Soutpansberg DLU, mnr. Japie van der Goot, het in ‘n verslag oor die situasie by Alldays gesê dis duidelik die rondloper Zimbabwiërs steel nie meer net kos en geld en verlaat dan die gebied nie. Hulle skroom nie meer om sonder provokasie selfs op ‘n skoolseun te skiet nie. Hy sê die plaaslike SAPD sal sake soos dié beter moet ondersoek, leidrade moet opvolg en kampongs moet moniteer.
In ‘n brief aan polisiekommisaris Jackie Selebi sê die voorsitter van die Soutpansberg DLU, mnr. Gideon Meiring, ‘n onaanvaarbare situasie word veroorsaak deur die onbeheerde toeloop van onwettige Zimbabwiërs in die gebied. Hy stel dit duidelik dat die landbougemeenskap die situasie nie gelate sal aanvaar nie en in die afwesigheid van doeltreffende polisie-optrede ernstig sal moet besin oor ‘n praktiese en haalbare model om hul gebied oor die lang termyn veilig te hou.
Selebi word in die brief gewys op die onlangse uitlatings van Minister Ngakula dat moorde op lede van die SAPD nie meer geduld kan word nie.
“Ons ervaar dieselfde realiteit aan ons lyf. Daarom doen ons ‘n ernstige beroep op die SAPD om die ongevraagde en toenemende toeloop van Zimbabwiërs in die Soutpansberg gebied aan te spreek. Indien daar boere of grondeienaars is wat deel is van die probleem, deur veral onwettige indiensneming van sodanige vreemdes, het u ons absolute ondersteuning en goedkeuring om teen diesulkes op te tree. Andersyds sal ons, die boeregemeenskap, met die oog op langtermyn oplossings ernstig moet besin oor ‘n praktiese en haalbare model om ons gebied veilig te hou,” lui die brief.
In die brief word ook verwys na verskeie vorige briewe wat met die betrokke aangeleentheid verband hou. Mnr. Meiring het die kommissaris ook gewys op vorige aanvalle en moorde op grondeienaars soos in die geval van die Hayward egpaar, mnr. Rudi Schmidt en die Terblanche egpaar, om aan te toon dat die booswigte nie skroom om vuurwapens teen wetsgehoorsame inwoners te gebruik nie.
Die dringende vertoë aan die nasionale kommissaris volg na ‘n voorval verlede naweek toe gewapende aanvallers helderoordag skote afgevuur het op skoolseun Rudiker van Benecke by ‘n watergat naby hul woning op die plaas Riversdale. Twee skote is met ‘n handwapen geskiet. Daarna het die verdagtes te voet die bos in gevlug.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
