ADVERTISEMENT:

 

Wateronderbrekings steeds 'n probleem

 

News  Date: 25 August 2006

 

Wateronderbrekings die afgelope week het inwoners ietwat onkant gevang nadat die munisipaliteit die vorige week die gerusstelling gegee het dat die waterposisie na normaal teruggekeer het.

Gedeeltes in die nuwe uitbreiding is Sondag geaffekteer deur die wateronderbreking. ‘n Omsendskrywe is ter elfder ure ontvang om die inwoners te waarsku dat daar roetine instandhouding gedoen sou word. Inwoners van Ons Tuiste, veral dié in die verswakte afdeling, moes verontrief word om inderhaas aan te pas by die waterreëlings.

Inwoners wat bejaarde ouers het wat in die nuwe uitbreiding woon, het gewonder waarom daar nie betyds van roetine instandhoudingswerk kennis gegee kon word nie. Die omsendbrief het ook gemeld van watertenks op strategiese punte, maar inwoners is in die duister gelaat van waar en wanneer die watertenks beskikbaar sou wees.

“Dit is net nie goed genoeg nie,” het een inwoner gesê. “Destyds toe hooflynkoppelings met die Albasinidam pypleiding gemaak is, is inwoners lank voor die tyd laat weet. Daar is ook presies aangedui hoe laat ‘n watertenk in ‘n bepaalde straat sou wees. Moes bejaardes nou met hierdie vae kennisgewing op hulle rolstoele in die strate rondry op soek na watertenks?”

‘n Persverklaring is ook namens die munisipaliteit uitgereik om te sê dat Tshikota op 16 en 17 Augustus onderbrekings in watervoorsiening sou hê. Die persverklaring is gedateer Donderdag,17 Augustus. Die rede vir die aanhoudende onderbrekings in Tshikota is te wyte aan ‘n aantal sake, soos die ernstige vandalisme van boorgate en ander infrastruktuur. Watertenks is ook op strategiese punte uitgeplaas en watertrokke sou gereeld verbykom om die tenks aan te vul. Inwoners kon van hierdie water gebruik vir huishoudelike doeleindes.

“Ons bied verskoning aan vir die ongerief wat deur die onderbreking van die watertoevoer veroorsaak word. Ons wil graag aandui dat die munisipaliteit al die nodige stappe neem, in samewerking met die waterdienste (Water Services Authority), om hierdie saak aan te spreek,” lui die persverklaring.

Intussen moes mnr. Gert Oosthuizen van Joubertstraat weer met leë krane sit, en dit terwyl hy die versekering van die munisipaliteit lees dat alles terug is na normaal. Sy woning val onder die gedeeltes van die dorp wat baie sleg geaffekteer is deur aanhoudende wateronderbrekings die afgelope tyd.

Gelukkig kom daar darem ook inligting wat in ‘n suksesverhaal eindig. ‘n Belastingbetaler was verlede week moedeloos met die waterprobleem op die hoek van Leeu- en Tshirululunistraat. Daar was aanhoudend lug in die pype en hulle moes lank sonder water klaarkom, terwyl niemand skynbaar geweet het wat om te doen nie. Maandag het hy gelukkig gerapporteer dat mnr. Masindi Mapholi, Direkteur: Tegniese Dienste, en ander munisipale amptenare na sy huis gekom het en gesien het dat die fout gelê het by die kleppe wat die waterdruk moes reguleer. “Hulle het die klep bestel wat foutief was en Sondag reggemaak.”

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines