

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 August 2006
Bejaardes in die dorp het hul sienings en ervarings gedeel na aanleiding van die sluiting van die munisipale gesondheidskliniek.
Soos dikwels gebeur, affekteer besluite die kwesbaarste groep in die samelewing die meeste. In hierdie geval het die nuwe Gesondheidswet wat verlede jaar gepromulgeer is, die munisipaliteit gemotiveer om die munisipale kliniek te sluit en die bejaardes ly daaronder.
“Dit was ‘n dom ding om te doen. Daar was so baie mense wat die kliniek besoek het, van naby en van ver,” het een pensioenaris gesê.
Mnr. Mike Wilbers, ‘n pensioenaris, sê dat hy dankbaar is dat hulle chroniese medisyne gratis kan kry.
“Maar daardie gesukkel … die munisipale kliniek was beter,” sê mnr. Wilbers.
Die bejaardes moet hulle voorskrif vir pille by die hospitaaldokter kry en kan daarna vir die duur van die voorskrif hulle medikasie by die kliniek gaan haal. Nou is hul enigste alternatief die “nuwe” primêre gesondheidsorgkliniek by die Magistraatskantore.
“Jy moet sê die gesondheidskliniek agter die polisiestasie by binnelandse sake, dan weet almal,” sê ‘n ander bejaarde.
“Hulle het my goed behandel en was baie vriendelik, maar hulle organisasie is deurmekaar. Dit is net baie vol en bedompig daar,” sê ‘n pensioenaris (69), wat pille gaan haal het by die nuwe kliniek. Die nommer aan dié pensioenaris toegeken, was nommer 100 en daar was nog ‘n groot aantal kliënte met groter nommers.
“Daar is baie ouer mense as ek wat van ver af kom en al vieruur opstaan om sewe-uur daar te wees,” sê die bejaarde.
‘n Ander 72-jarige bejaarde van die dorp sê dat sy verlede week by die kliniek gaan pille haal het. Daar gekom, het die kliniek nie die pille in voorraad gehad nie.
“Ek het vir hulle gesê dat ek vies is daaroor.”
Mev. Le Grange het vroeër vir bejaardes wat moeilik oor die weg kom, pille kom haal by die SAVF Dienssentrum. Dit was op Dinsdae met die munisipale klinieksuster se weeklikse besoek by die dienssentrum.
“Ons is baie dankbaar vir die hulp wat ons van die suster gekry het, maar nou is dit ‘n probleem. Ons kort iemand met vervoer wat die bejaardes sal oplaai en na die hospitaal vervoer, “ sê mev. Le Grange.
Mev. Jackie van Nieuwenhuizen sê dat die munisipaliteit se klinieksuster vir die bejaardes by die dienssentrum medikasie en inspuitings gegee het, bloeddruk en -suiker getoets het, asook voetbehandelings gegee het. Mev. Van Nieuwenhuizen, self ‘n gekwalifiseerde suster, verrig hierdie take vir die bejaardes van Laat Lente en Herfsakker, waar sy ‘n inwoner is.
“Die bejaardes wat na die dienssentrum gekom het vir hierdie dienste, het ‘n groot probleem,” sê sy.
‘n Inwoner van die dorp sê dat sy nie kan verstaan hoekom vroue op plase deur susters besoek kan word, terwyl die dorp se bejaardes al vir die afgelope paar jaar geen huisbesoeke ontvang nie.
Die munisipale gesondheidsdiens in Tshikota is ook al sedert Junie vanjaar gestaak. Die kliënte van die buiteklinieke wat verkies het om na die munisipale kliniek in die dorp te kom, moet nou terugkeer na die buiteklinieke. Hulle het die munisipale kliniek verkies omdat bestellings van medikasie daar op datum gehou is en hulle tevrede was met die diens.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
