

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 August 2006
‘n Bekende sekuriteitsman van die dorp, mnr. Nicky Duvenhage (25) is noodlottig beseer in ‘n motorongeluk wat Sondagmiddag naby Polokwane plaasgevind het.
Nicky was ‘n ywerige ondersteuner van die XXX Bike Club en het die wedren in Polokwane bygewoon. Na afloop van die wedren was Nicky klaarblyklik een van vyf insittendes in ‘n motor wat op die pad vanaf die wedren na die hoofpad in ‘n botsing met ‘n ander voertuig betrokke was. Nicky, wat agter in die middel tussen twee ander passasiers gesit het, is ernstig beseer. Hy het die volgende dag in die hospitaal beswyk. Die bestuurder en drie ander passasiers is steeds in die hospitaal.
Nico Johannes Duvenhage, of Nicky, soos almal hom geken het, is gebore op 23 Januarie 1981 en was in Hoërskool Louis Trichardt op skool. Hy was die afgelope paar jaar werksaam by Executive Protection Services. Sy werkgewer, mnr. Johan Jooste, was baie hartseer oor die nuus van die afsterwe van Nicky.
“Hy was my boetietjie; hy was lankal nie meer net iemand wat vir my gewerk het nie,” het mnr. Jooste gesê. Sy kollegas het ‘n baie hoë dunk van hom gehad.
Nicky se gesin sê dat hulle altyd sal onthou hoe vrolik Nicky was. Sy broer, Gert, sê dat Nicky by elke wedren was. Hy was ook lief daarvoor om musiek te luister en saam met sy vriende te kuier.
Mnr. Don Page, voorsitter van die XXX Bike Club, sê dat Nicky ‘n groot ondersteuner van die klub en wedrenne was, alhoewel hy nie lid van die klub was nie. Mnr. Page sê dat die klub ‘n welwillendheidsfondsinsameling loods om te help met die onkoste, omdat so baie mense in die dorp vir Nicky geken het.
Die begrafnis sal onderneem word deur Martin’s Funeral Services. Die gesin wil reeds ‘n woord van dank uitspreek teenoor die onderneming, asook teenoor die gemeenskap.
Nicky word op Dinsdag, 29 Augustus, om 10:00 vanuit die Hervormde Kerk begrawe. Die diens sal waargeneem word deur ds. Phillip Horn. Hy laat sy moeder, Alice, en broers, Theuns (28) en Gert (19) agter.
Vir meer inligting oor die fondsinsameling kan mnr. Page geskakel word by tel. 084 429 8273 of mnr. Billy du Preez by 084 685 1830.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
