

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 January 2018
‘n Gesin van Eltivillas het Dinsdag ‘n gewapende aanval oorleef.
Ná afloop van die voorval soek die Makhado Polisie nog onverpoosd na die twee verdagtes wat hulself glo voorgedoen het as munisipale werkers.
Volgens plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane is die roof voorafgegaan deur twee verdagtes wat Maandag by die gesin se huis opgedaag het onder die voorwendsel dat hulle daar was om die watermeterlesings te neem vir die Makhado Munisipaliteit.
Hierdie was nie dieselfde verdagtes wat die gesin toe die volgende dag kom beroof het nie.
“Die twee verdagtes [van Maandag] het die gesin meegedeel dat hulle later sou terugkom om die meter te herstel, omdat dit stukkend is,” het Radzilane gesê.
Die volgende dag, ongeveer 12:00, het twee ander verdagtes by die gesin se huis opgedaag. Hulle het glo gesê hulle was van die munisipaliteit en was daar om die watermeter te herstel. Hierdie verdagtes het net soos hulle voorgangers van die vorige dag blou oorpakke aangehad.
Die oomblik toe dié twee verdagtes ingelaat is, het hulle vuurwapens uitgepluk en geld geëis by die huismense. “Toe hulle planne nie geslaag het nie, het die verdagtes hulle toegespits op die twee vrouens in die huis en hulle juweliersware van hulle nekke afgepluk en op die vlug geslaan,” het Radzilane gesê.
Geen skote is geskiet tydens die voorval nie en niemand is ernstig beseer nie.
Die polisie ‘n beroep gedoen op inwoners om hulle te help soek na die vier verdagtes. Enige iemand met inligting wat die polisie kan help kan die Makhado Polisie skakel by Tel 015 519 4300.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
