ADVERTISEMENT:

 

Ralda van Wyk van Levubu wat tydens haar Desember-vakansie deur malaria platgetrek is. Sy was die hele vakansie siek en moes ook ‘n deel daarvan in die hospitaal in Mosselbaai deurbring. Foto verskaf.

Malaria trek Soutpansberger langs die kus plat

 

Min dinge in die lewe is so sleg soos om ‘n groot deel van jou welverdiende Desember-vakansie in die hospitaal te moet deurbring. Dit is egter presies wat met Ralda van Wyk, ‘n inwoner van Levubu, gebeur het.

Ralda en manlief André gaan hou elke jaar vakansie in Jongensfontein, naby Stilbaai. Vanjaar was egter anders as vorige jare. Nadat hulle op 5 Desember by hul bestemming gearriveer het, het Ralda skielik ernstig siek geword. ‘n Dag later moes sy inderhaas in die Bayview Hospitaal in Mosselbaai opgeneem word. Die diagnose? Malaria, van alle dinge!

Om met malaria in die hospitaal te beland, was die laaste ding wat Ralda verwag het. “Die simptome wat ek gehad het, het glad nie ooreengestem met die bekende simptome waarna ons normaalweg verwys wanneer ons dink aan malaria nie,” het Ralda die afgelope week aan die Zoutpansberger gesê.

So byvoorbeeld, het Ralda gesê, het sy nooit hoofpyn, verkoue simptome of naarheid gehad nie. Die simptome wat sy wel getoon het, was slegs ‘n dowwe pyn onder die ribbekas, met buitengewone koors en lyfseer daarna, na aanleiding van die erge koorsaanvalle.

Lees ook:  Toets liewers vir malaria voor dit te laat is

In retrospeksie, het Ralda gesê, blyk dit dat haar liggaam haar baie subtiel vooraf gewaarsku het dat iets fout is. Die oggend van 20 November het sy by die huis wakker geword met ‘n dowwe pyn onder haar ribbes, wat gevoel het soos ‘n bloukol, soos wanneer mens jouself teen iets gestamp het.

“Dit het daar gebly en nie weggegaan nie …  Eers nou, ná alles, het ons besef dat dit moontlik my milt en ingewande was wat begin swel het,” het Ralda gesê.

Die aand van 4 Desember was ‘n erge nag vir Ralda. “Dit was ‘n nag van pynlike prikkels deur my hele lyf, warm- en kouekoors. Deur die dag was ek piekfyn en het niks makeer nie,” het Ralda gesê.

Teen 5 Desember het Ralda se toestand verder agteruit gegaan. Sy kon nie slaap nie en het erge kouekoors gehad. “Ek het die heeltyd net nog klere bly aantrek,” het Ralda gesê.

Teen 12:00 die middag is daar besluit om Ralda by ‘n plaaslike dokter op Stilbaai te kry. In daardie stadium het haar koors gestyg tot net bo 40°C. “Die dokter het dit as ‘n angsaanval gediagnoseer en kalmeermiddels voorgeskryf, maar André het daarop aangedring dat hulle vir malaria toets,” het Ralda gesê.

Daar is toe wel vir malaria getoets, met die uitslag wat positief teruggekom het. Die uitslag het Ralda-hulle ietwat verstom. “Ek was in die maand voor my siekte net in die Limpopo Provinsie - Levubu en omgewing, Musina en omgewing, sowel as in die Kruger Wildtuin, waar ons by Tzendze gekamp het. Ek is egter een van daardie oorversigtige mense wat altyd alles in plek het vir muskiete en die voorkoming van malaria, aangesien my man André dit ongeveer 14 jaar gelede gehad het en ook baie, baie siek was. Dus was dit ‘n groot skrik!” het Ralda gesê.

Ten spyte van ‘n positiewe malariadiagnose, het die dokter egter vir Ralda-hulle meegedeel dat sy geen kennis en ervaring rondom die behandeling van malaria het nie. Dit het André genoop om die hulp van dr. Anton Stroebel van Louis Trichardt in te roep.

Stroebel het Maandag by navraag gesê dat dit nie vreemd is dat geneeshere in gebiede waar malaria glad nie voorkom nie, min kennis aangaande die siekte het nie. “In ‘n plek soos Stilbaai het plaaslike geneeshere nie eers malaria toetstoerusting in hul spreekkamers nie. Wat goed is, is dat hulle Ralda wel vir malaria getoets het tydens haar eerste besoek aan die dokter,” het Stroebel gesê. Die feit dat malaria ‘n rare siekte in die Kaap is, was ook die rede waarom daar aanvanklik nie die nodige medikasie beskikbaar was om Ralda te behandel nie. Stroebel het egter deurlopend telefonies die medici in die Kaap bygestaan.

Ralda is eers op 9 Desember uit die hospitaal ontslaan. “Ek het geen vakansie gehad nie en was die hele Desember siek,” het Ralda gesê. Sy is egter bly om weer gesond by die huis te wees. Ná afloop van haar siekte het sy egter inwoners gewaarsku om hulle eerder te laat toets vir malaria, al was hulle nie ‘n ‘n malariagebied nie en al wys hulle nie die normale malariasimptome nie. “As jy sleg voel, laat jou eerder toets vir malaria,” het Ralda gesê. Haar waarskuwing is deur dr. Stroebel beaam.

Lees ook:  Toename in gevalle van malaria kommerwekkend

News - Date: 20 January 2018

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: