ADVERTISEMENT:

 

Kaart verskaf deur die Departement van Gesondheid en MRC.

Toename in gevalle van malaria kommerwekkend

 

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) het gewaarsku dat daar die afgelope jaar ‘n kommerwekkende toename in die aantal malariagevalle was in veral Limpopo en in Mpumalanga.

Volgens die NIOS is daar in November 2017 in totaal 1 414 malaria gevalle en 10 sterftes as gevolg van die siekte by hulle aangemeld. In die ooreenstemmende tyd in 2016 is slegs 294 gevalle en twee sterftes aangemeld.

Negentig persent van die 1 414 malaria gevalle was afkomstig vanuit die Limpopo en Mpumalanga provinsies, met die Vhembe en Mopani distrikte wat 90% van Limpopo se gevalle opgelewer het. Wat Mpumalanga betref, was 94% van die malaria gevalle afkomstig vanuit die Bosbokrand-omgewing.

In Mpumalanga is 62% van die gevalle deur die NIOS as “plaaslik oorgedra” geklassifiseer, terwyl 38% van die gevalle geklassifiseer is as “ingevoerde” malaria gevalle, hoofsaaklik uit Mosambiek.

Gevalle van “ingevoerde” malaria, wat veroorsaak word deur die sogenaamde “taxi” of “reisende” muskiet, het die afgelope paar jaar in intensiteit toegeneem. Dit gebeur nou al hoe meer dat mense in nie-malaria gebiede malaria kan opdoen. Dit is vanweë die besmette wyfie Anopheles muskiet (wat die malariaparasiet versprei) wat haar weg vind na nie-malaria gebiede in vragmotors, busse en taxi’s vanuit buurlande en hoë-risiko malaria gebiede. Die frekwensie in die getal “ingevoerde” malaria gevalle het so toegeneem dat die Departement van Gesondheid in hulle 2018 Riglyne vir die behandeling van Malaria spesifiek hiervan melding maak en dokters in voorheen malaria-vrye areas versoek het om hul kennis van die siekte op te skerp.

Dr. Anton Stroebel, ‘n geneesheer by die Prognos mediese sentrum in Louis Trichardt, het Maandag gesê dat hulle die afgelope paar maande definitief ‘n toename in die getal malaria-gevalle ervaar het. Hy het bygevoeg dat hulle selfs dwarsdeur die 2017 winter malariagevalle gesien en opgeneem het. “Ons ervaar deurlopend ‘n toename. In hierdie stadium sien ons weekliks gevalle. Verlede week het ons ‘n slegte geval van serebrale malaria gehad,” het Stroebel gesê.

Volgens Stroebel moet mense nie meer wag vir die klassieke simptome van malaria nie. Klassieke simptome sluit in koors, griepsimptome en hoofpyn. “As jy sleg voel en jy was in ‘n malaria-area, laat toets liewers vir malaria. Jy kan nie te veel toets nie,” het Stroebel gesê. 

Lees ook: Toets liewers vir malaria voor dit te laat is

Baie mense besef egter steeds nie hoe gevaarlik malaria kan wees nie. Die siekte versprei vinnig en kan binne 24 uur selfs noodlottig wees. “Malaria is ‘n dodelike siekte … Dit is dus belangrik dat daar dadelik met behandeling begin moet word wanneer jy met malaria gediagnoseer word,” het Stroebel gesê.

Te midde van die toename in malariagevalle blyk daar tans nie rede tot paniek te wees nie. Dit is belangrik om te onthou dat die wyfie Anopheles muskiet nie endemies aan Louis Trichardt is nie. Daar is egter maar altyd ‘n insidensie van malariagevalle in die streek, vanweë die feit dat die dorp grens aan ‘n verklaarde malaria-area. (Sien meegaande kaart).  

‘n Groter kans vir die voorkoms van malaria bestaan egter tans, vanweë gunstige weersomstandighede vir die verspreiding van die siekte. Die hoogseisoen vir die voorkoms van malaria strek vanaf Oktober tot Maart, en die laagseisoen vanaf Maart tot Oktober. Verlede jaar het die getal malariagevalle in April en Mei gepiek en selfs voortgeduur tot in Junie vanweë buitengewone warm weersomstandighede.

Lees ook:  Malaria trek Soutpansberger langs die kus plat

News - Date: 20 January 2018

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: