ADVERTISEMENT:

 

Omstrede naamsaak binnekort in Appèlhof aangehoor

 

News  Date: 01 September 2006

 

“Alle stukke is ingedien en ons wag nou net vir die verhoordatum in die appelhof,” het mnr. André Naudé van die Voorsittersvereniging op Makhado (Louis Trichardt) hierdie week aangekondig ten opsigte van die naamsverandering van die dorp.

Volgens ‘n brief van prokureurs in Bloemfontein is die respondente se praktyksnota, opsomming van betoog en die betoogshoofde ontvang.

“Ons wag dan nou op die toekenning van ‘n verhoordatum. Die hofrol vir die vierde termyn (1 November tot 30 November 2006) word aan die einde van die derde termyn, naamlik September 2006, uitgegee. Sodra ons dit ontvang, sal ons u verwittig of hierdie appèl daarop verskyn,” lui die brief.

Regter MK Legodi van die Hooggeregshof in Pretoria het op 8 September verlede jaar die Voorsittersvereniging (VV) se hofaansoek om die naamsverandering van die dorp na Makhado te hersien, met koste van die hand gewys. Die VV het eenparig besluit om appèl aan te teken teen regter Legodi se besluit. Verlof tot appèl is toegestaan vanweë die nasionale belang van die saak en om dieselfde rede het regter Legodi toegestem dat die saak direk na die Appèlhof in Bloemfontein geneem kon word sonder ander tussenverhore.

Op 6 Junie vanjaar was dit presies drie jaar gelede dat die amptelike verandering van die dorp se naam in die staatskoerant gepubliseer is. Die VV se besware teen die naamsverandering het gehandel oor die gebrek aan behoorlike konsultasie, die naam “Makhado” en die koste-implikasie.

Intussen het mnr. Robert Khosa, voorsitter van die Hlanganani Cocern Group, in Julie vanjaar in ‘n ope brief bevestig dat die groep nie die wyse waarop die naamsverandering van Louis Trichardt na Makhado hanteer is, ondersteun het nie. Mnr. Khosa skryf dat hulle op ‘n vergadering op 4 Junie by Bungeni beskuldig is dat hulle ‘n derde mag is wat met die blankes in Louis Trichardt saamwerk en dat hulle van die dienste van ‘n blanke prokureur gebruik maak. Wat die naamsverandering betref, skryf Khosa: “Neem kennis dat hierdie saak nog voor die geregshowe dien en dat dit sub judice is. Daarom gee ons nie nou kommentaar nie. Wees weereens gewaarsku dat ons nog nie gefaal het nie … En neem kennis dat dit ons demokratiese reg is om ons besware te opper.”

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines