ADVERTISEMENT:

 

Bekende oud-sakeman, mnr. Dirk du Preez (79), wat Vrydag ernstig beseer is in ‘n motorongeluk. Foto verskaf.

Bly vir oom Dirk bid

 

News  Date: 26 January 2018

 

“Ons vat dit uur vir uur, dag tot dag.”

Dit was mnr. Dirk du Preez (junior) se woorde vroeg Woensdagoggend toe hy met die Zoutpansberger telefonies gepraat het vanaf sy pa se hospitaalbed in Polokwane.

Sy pa, die 79-jarige oom Dirk (senior) is verlede Vrydag ernstig beseer tydens ‘n semi-tromp-op botsing tussen sy voertuig en ‘n bus in Louis Trichardt se Industriastraat. Die ongeluk het net voor 16:00 plaasgevind en die omstandighede wat gelei het tot die ongeluk sal deur die polisie ondersoek word.

Oom Dirk is deur die impak van die botsing in sy voertuig vasgepen en reddingswerkers moes hom uit sy voertuig sny. Plaaslike medici was egter deurlopend op die toneel om hom by te staan.

Nadat oom Dirk uit die wrak van sy voertuig gesny is, is hy per ambulans deurgejaag na die Zoutpansberg Privaathospitaal. Daar aangekom, het medici hom gestabiliseer waarna hy inderhaas oorgeplaas is na die Netcare Hospitaal in Polokwane.

Oom Dirk het verskeie beserings opgedoen. Sy regterarm van die elmboog na die hand is erg gebreek. Sy regterbeen is ook op twee plekke gebreek en sy knie is vergruis. Daarbenewens is sy bekkenbeen gekraak en sy regter sleutelbeen gebreek. Hy het ook skade aan sy buik opgedoen.

Dirk is sedert die ongeluk feitlik deurlopend by sy pa se hospitaalbed. “Hulle hou hom onder verdowing, maar hy reageer. Dit is vir my verblydend. Ek kan definitief sê hy hoor my…” het Dirk gesê.

Oom Dirk was Saterdag vanaf 08:30 tot ná 14:00 in die teater, sodat medici die skade kon herstel. Hulle kon egter net die arm opereer en die skade aan sy buik herstel. “Weens sy ouderdom wou hulle hom nie langer onder narkose hou nie,” het Dirk junior gesê.

Sedert Saterdag kon medici egter nog glad nie aan oom Dirk se ander beserings aandag skenk nie, weens sy verswakte toestand. “Hulle sou hom môre [Donderdag] weer geopereer het, maar vir eers gaan hulle dit nie doen nie,” het Dirk junior gesê.

Volgens Dirk is dit net die krag van gebed wat hulle aan die gang hou. Hy sê sy ma, tannie Vos, kry onder omstandighede maar swaar. Hulle sal in Oktober vanjaar 58 jaar getroud wees.

“Ons hou net aan om te bid en mense moet asseblief vir ons bly bid,” het Dirk gesê. Hy het kort voor 15:00 Woensdagmiddag laat weet dat hy weer op pad terug is na sy pa se hospitaalbed. “My vrou het my laat weet dat hulle hom nou onder sterker verdowing het en dat hy slaap,” het hy gesê.

Die Du Preez-familie het intussen hulle dank uitgespreek teenoor almal wat oom Dirk op die toneel van die ongeluk bygestaan het. Hulle het egter ‘n spesiale woord van dank gerig aan dr. Casper Venter, wat gehelp het om oom Dirk uit sy voertuig te kry, asook al die ambulansdienste wat op die toneel was. Dank het ook gegaan aan die personeel van die Zoutpansberg Privaathospitaal en die Netcare Hospitaal vir alles wat hulle vir oom Dirk gedoen het, en steeds doen.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines