ADVERTISEMENT:

 

Familie in plaaswoning beroof deur "bekende" inbreker

 

News  Date: 01 September 2006

 

“Skrikwekkend om te dink dit is die hand wat jou kos gee wat jy byt.”

Bittere woorde van mnr. Louis Hamann van die plaas Mowcop op die Roodewalpad, nadat dit aan die lig gekom het dat die man wat Vrydagaand by hul huis ingebreek het terwyl hy en sy familie daar was, “een van sy mense” was.

Louis vertel dat hy en sy vrou, Mari, en twee kinders, Louis (11) en Angelique (9), die betrokke aand in die hoofslaapkamer lê en televisie kyk het. Omstreeks 22:00 het hulle ‘n lawaai in die huis gehoor, maar gedink dit was ‘n tak wat op die dak geval het vanweë die sterk wind.

“Die honde buite het tekere gegaan, maar dit het nie geklink of daar enige bedreiging was nie,” sê Louis.

Sowat 10 of 15 minute later het Louis en sy seun opgestaan en na die leefarea in die huis gestap.

“Groot was my skok toe ek modderspore ontdek vanaf die kombuis, deur die leefarea tot by my kinders se slaapkamer. Dit was toe dat ek besef het daar is mense in ons huis.”

Louis het besef dat dit malligheid sal wees om na die persoon(e) te gaan soek. Daar was net te veel wegkruipplek in die huis. Hy en sy seun het net daar omgedraai, teruggestap en hulself saam met die res van die familie in hul kamer toegesluit. Hy het toe per selfoon ‘n goeie vriend van hom, oom Daan Snyman, geskakel.

Oom Daan het op sy beurt hulp ontbied. Eerste en soos blits op die toneel was dr. Philip Venter en Peet Visser van Soutpansberg Sektorpolisiëring. Peet het die huis van voor betree, terwyl Philip agterom die huis beweeg het waar hy opgemerk het dat die agterdeur oopstaan. Hy, Peet en Louis het toe na die onwelkome besoeker(s) begin soek.

Dit was Philip wat die inbreker betrap het, maar soos blits het die man hom ontglip en na buite gestorm. Buite het Louis hom probeer vastrek maar ook sonder sukses. Die man is toe die bosse in.

“Dit was in daardie stadium wat ek besef het: ek ken hierdie man se manier van hardloop. Ek het geweet dit is een van my mense,” sê Louis.

Intussen het lede van die Soutpansberg Dorpswag en die polisie opgedaag. Nadat die huis en Hamann-familie beveilig is, is daar sommer direk na die plaasarbeiders se slaapkwartiere beweeg – reguit na die verdagte se deur.

Daar aangekom het die verdagte hom in sy kamer toegesluit. Sy deur is oop forseer en hy is aangekeer. Van die goedere wat tydens sy “besoek” uit die Hamanns se huis gesteel is, soos ‘n selfoon, is by hom gevind.

“Daar was definitief nog mense betrokke. Ons het later selfs spore op die dak gekry. Daar was orals spore,” sê Louis. Hy is egter dankbaar vir sy en sy familie se veilige bewaring.

“Alle eer aan God. Groot dankie ook vir die flinke bystand van Philip en Peet van Soutpansberg Sektorpolisiëring, oom Daan, Johan, Melani-hulle, lede van die dorpswag en polisie, sowel as pastoor Gert en Juliana Schoeman.”

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines