ADVERTISEMENT:

 

Ma Altie en haar drie-maande-oue babadogtertjie Lee-Ann. Inlas: ‘n Foto wat met ‘n selfoon in die hospitaal geneem is om die blou swelling van Lee-Ann se kop aan te dui.

"Hulle speel met 'n baba se lewe, nie die van 'n dier"

 

News  Date: 01 September 2006

 

“Hulle speel met ‘n drie-maande-oue baba se lewe, nie met dié van ‘n dier nie!”

Mev. Altie van den Heever het met skok vertel oor die nare behandeling wat haar babadogter, Lee-Ann, en die familie ontvang het by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal slegs ‘n paar dae nadat hulle langs Lee-Ann se bed gestaan het en gevrees het vir die ergste.

Lee-Ann is a paar weke gelede opgeneem in die Provinsiale Hospitaal in Polokwane. Dodelik siek het dokters gesukkel of vas te stel wat verkeerd is met haar. Later is daar vasgestel dat sy ‘n ernstige breininfeksie het, waarna daar met behandeling begin kon word.

‘n Paar dae later is Lee-Ann ontslaan en oorgeplaas na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal. Sy het verder herstel en is ontslaan om by die huis verder aan te sterk, maar moes elke dag teruggebring word hospitaal toe vir medikasie en inspuitings.

Dit was juis die kwessie rondom die inspuitings wat op die ou end ‘n herrie ontketen het.

Ma Altie vertel dat susters vanweë die voorafgaande intensiewe behandeling nie meer ‘n aar in Lee-Ann se armpies kon kry nie. Daar is toe besluit om haar in die kop in te spuit.

Op Dinsdag, 15 Augustus, het Altie soos gereël vir Lee-Ann na die hospitaal geneem vir behandeling. Nadat haar lêer eers opgespoor moes word, kon Lee-Ann ingespuit word.

Van meet af het Lee-Ann vreeslik gegil en haar koppie het ernstig begin swel. Ten spyte hiervan, vertel Lee-Ann, het die susters net aanhou probeer om Lee-Ann haar volle dosis toe te dien. Weens die swelling het die susters klaarblyklik later moed opgegee en besluit om na ‘n ander aar te soek. Te midde van Lee-Ann se swelling van die kop het die susters toe ‘n rubberband om Lee-Ann se kop gesit.

“Hulle het haar toe teen die kop geslaan om blykbaar te help met die opspoor van die aar. Lee-Ann het in daardie stadium onbeheerbaar geskreeu en haar koppie het begin blou word van die swelling,” sê Altie.

Dit was toe dat Altie besluit het genoeg is genoeg. Sy het vir Lee-Ann gevat en geloop. Onderweg van die hospitaal het sy haar pa, Johnnie, raakgeloop en hom vertel wat gebeur het.

In woede is oupa Johnnie na die hospitaal. Hy het die susters gekonfronteer en ‘n woordewisseling het ontstaan. In ‘n stadium, sê Johnnie, het die een suster ‘n deur in sy gesig toegeslaan, wat hy uit refleks oopgeskop het. Hy het toe die hospitaal verlaat.

“Na ‘n ruk het ‘n dokter my geskakel en vir my gesê ek moet vir Lee-Ann terugbring, anders sal hulle verdere stappe teen my neem. Hy het ook gesê dat hulle die polisie sal bel, want een van die susters is blykbaar beseer tydens haar en my pa se argument,” sê Altie. Sy voeg by die dat dokter haar ook gedreig het dat hy verdere stappe teen haar gaan neem, want “sy kan nie vir haar kind sorg nie”.

Nodeloos om te sê, Altie het nie vir Lee-Ann teruggevat nie en het privaat behandeling vir die kleinding gekry.

“Die hele storie het my erg ontstel. Dit is ‘n gemors daar by die hospitaal,” sê Altie.

Die Zoutpansberger het verlede Maandag, 21 Augustus ‘n volledige verslag van die voorval asook vrae na beide die hospitaal se skakelbeampte, mnr. Norman Kutama, en die Departement van Gesondheid se provinsiale skakelbeampte, mnr. Phuti Seloba, gefaks vir kommentaar. Na verskeie telefoniese oproepe en boodskappe was daar teen druktyd hierdie week nog geen antwoord van hulle kant af nie.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines