

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 September 2006
Die NG Kerk se Ring van Louis Trichardt het hul stem laat hoor rondom die omstrede kwessie van homoseksualiteit.
Die Ring het tydens die ringsitting op 19 Augustus besluit om die standpunt wat ingeneem is oor homoseksualiteit en die hantering van homoseksuele lidmate aan die media bekend te stel.
Die Ring verwerp die huidige rigting in die kerk en die gemeenskap waar homoseksualiteit as ‘n alternatiewe lewenswyse voorgehou word en nie as ‘n sonde nie. Die standpunt van die ring is dan ook dat lidmate met homoseksuele neigings soos lidmate met enige ander sondige neigings behandel sal word.
In kort aanvaar die Ring die standpunt van die Bybel dat God ‘n huwelik uitsluitlik skep as ‘n permanente verbintenis tussen een man en een vrou en dat seksualiteit slegs vir daardie huwelik bedoel is.
“Enige vorm van seks buite die eenheid wat God daarstel in die huwelik is buite die bedoeling van God en is dus sonde,” lui die verklaring. Die Ring aanvaar met nadruk die Bybel as enigste norm in die etiese beoordeling van enige saak.
Die mediavrystelling lui: “God verenig nie twee mense van dieselfde geslag in ‘n huwelikseenheid nie. Dit is sonde wanneer kulturele instellings probeer om die huwelikseenheid, wat God tussen man en vrou skep, tussen persone van dieselfde geslag te vergestalt. ‘n Homoseksuele verbintenis kan dus nie as ‘n Christelike huwelik erken word nie.
“Die hantering van die Skrif in die huidige debat, waar net gefokus word op tekste waarin die woord ‘homoseksualiteit’ voorkom, sonder om dit in verband te bring met tekste oor God se bedoeling met die skep van ‘n eenheid tussen man en vrou, is onverantwoordelik.”
Die Ring sê “lidmate met homoseksuele neigings en ingesteldheid word aanvaar in die gemeente op dieselfde wyse waarop lidmate met ‘n ingesteldheid en neigings vir losbandigheid, dranksugtigheid, gierigheid, eersugtigheid, wreedheid, gemaksug, wraaksug, rassisme of watter sondige neiging ook al, aanvaar word” en hulle grond dit op Romeine 1 vers 18 tot 2 vers1.
Die standpunt wat die Ring alreeds in Mei geformuleer het, lui dat sondige neigings en ingesteldhede as sonde bely word en dat dit nie regverdig word omdat dit aangebore of aangeleer is nie.
“Indien hulle (lidmate) openlik in homoseksuele verhoudings of dade betrokke is, sal hulle net soos die ander lidmate hieroor vermaan word. Indien hulle nie deur hierdie vermaning hulle weerhou van hierdie verhoudings of dade nie, sal hulle net soos ander lidmate van die sakramente weerhou word, en indien hulle openlik kies vir ‘n homoseksuele leefwyse sal hulle, net soos enige ander lidmaat wat openlik kies vir ‘n sondige leefwyse, deur die kerklike ban van die gemeente afgesny word. Indien hulle tot inkeer kom, sal hulle, net soos enige ander lidmaat, in die gemeente opgeneem word,” sê die Ring.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
