ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Lukie Steenkamp, voorsitter van hulpbronbewaring vir die Potgietersrus DLU (links) en Kobus Pienaar van die Departement Omgewingsake van Limpopo, afgeneem by hul stalletjie oor aasvoëlrestaurante tydens die TLU Noordstreek se Landbou Expo drie weke gelede.

Aasvoëlrestaurante kan help om spesie te beskerm

 

News  Date: 01 September 2006

 

Aasvoëls is ‘n bedreigde spesie roofvoëls wat ‘n belangrike rol in die ekosisteem speel. Tog word die aasvoëls se belangrikheid in die natuur onderskat en die voëls se getalle word al hoe minder.

Die aasvoëls se voortbestaan word voortdurend deur die mens bedreig. Faktore wat tot die aasvoëls se bedreiging bydra is die vermindering van habitat, verwydering van karkasse en die doelbewuste, sinlose vergiftiging van die karkasse deur boere. Ook die direkte vervolging van aasvoëls vir die doel om tradisionele “muti” te bekom is ‘n probleem.

Die vermindering van die aasvoëls se habitat belemmer die voëls se vermoë om doeltreffend te kan broei. Die uitbreiding van woonbuurte het die oppervlakte waarin wilde diere voorgekom het, drasties verminder en as gevolg daarvan is karkasse van wild nie meer so volop vir aasvoëls om aan te kan vreet nie. Veeboere maak hulself ook skuldig aan die uitroei van aasvoëls, omdat die karkasse wat vergiftig word om ander roofdiere soos jakkalse dood te maak, ook die aasvoëls dood maak. Die wreedste en sekerlik die skokkendste faktor is die direkte vervolging van aasvoëls. Aasvoëls word gevang of doodgemaak deur vergiftigde karkasse, waarna verskeie liggaamsdele van die aasvoël vir tradisionele medisyne gebruik word. So is daar die “lotto-muti” waar die aasvoëls se oë en brein geëet moet word om sodoende die boerpot se wen nommers te kan sien. Die geloof is, omdat ‘n aasvoël se oë so skerp is, kan hulle selfs in die toekoms sien.

Daar is egter ‘n baie positiewe oplossing om die voortbestaan van aasvoëls te verseker, maar die projek vereis die samewerking van al die boere in die Soutpansberg-omgewing. Die projek om aasvoël getalle te stabiliseer en te help groei, deurdat aasvoëls van ‘n baie veiliger beskermde opsie van kos en water voorsien kan word, staan bekend as aasvoëlrestaurante.

Die Distrikslanbou-unie van Potgietersrus het alreeds met so projek begin en verskeie boere het al deel geword van die noodsaaklike bewaringskonsep. Volgens Kobus Pienaar van die Departement van Omgewingsake in Limpopo, word die boerderygemeenskap van Potgietersrus as die pioniers van hierdie projek beskou.

Maar die aksie moet verder uitgebrei word om sodoende boere van die Soutpansberg-distrik ook betrokke te kry om dieselfde bewaringswerk te kan doen. ‘n Boer wat so ‘n aasvoël restaurant begin sal nie net ‘n belangrike bewaringsrol speel nie, maar sal ekotoerisme na sy plaas toe lok.

Pienaar het aan die Zoutpansberger gesê dat boere wat deel vorm van die projek as aasvoëlbeskermhere bekendstaan. Daar is egter verskeie aspekte wat in ag geneem moet word voordat daar met ‘n aasvoëlrestaurant begin kan word. Volgens Pienaar is die ligging baie belangrik.

Die aasvoëlrestaurante moet ver weg van kragdrade en moontlike steurings wees, maar moet tog bekombaar wees vir die boere as hulle karkasse in die gebied wil los. Daar moet volhoubare voorsiening van kos- en waterbronne wees en genoegsame landingsplekke vir die voëls om te kan sit. Verder sal daar van boere verwag word om ‘n skuiling op te rig sodat die voëls besigtig kan word en hul getalle genoteer word.

Boere wat belangstel in die projek word gevra om eers met Pienaar te skakel, sodat daar eers vasgestel kan word of die area wat die boer in gedagte het, geskik is vir só ‘n restaurant. Pienaar kan geskakel word by tel. 082 809 8875 of (015) 198 7337.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines