Search for a story:

Bosveld het sy eie vorm van Pokémon

News - Date: 03 February 2018

Written by: Isabel Venter / Viewed: 371

 

Al ooit gewonder wie die geveg sal wen tussen ‘n rooi roman spinnekop en ‘n skerpioen?

Lank gelede, so word daar vertel deur die ouer garde, was sulke gevegte die bron van groot pret vir plaaskinders wat vakansies by die huis gebly het. Nodeloos om sê, was dit meestal op plase agter die Soutpansberg.

Om dit vir die jonger geslag vandag in perspektief te stel - dit was ‘n tipe Bosveld Pokémon. Elke kind het sy eie soldaat gaan vang deur te gaan soek onder klippe, houtstompe en gate in die grond en dit dan gebring na die “arena”.  

Weddenskappe is dan aangegaan oor wie se soldaat – rooi roman of skerpioen – sou wen.

As mens vandag rondvra, sal baie hulle geld verwed op die skerpioen. Veral as dit ‘n lekker groot, vet en giftige skerpioen is. Hier en daar is daar tog iemand wat hulle geld sal waag op die spinnekop. Oorwegend glo die meeste mense dat ‘n skerpioen sal wen omdat hy gewapen is met ‘n giftige angel.

As mens by dié mense wat weet gaan uitvind, is daar baie karaktereienskappe van romans en skerpioene wat vir en teen hulle tel in so ‘n geveg.

Vat nou die rooi roman, wat nie eintlik ‘n spinnekop is nie. ‘n Rooi roman mag dalk agt pote hê soos ‘n spinnekop, maar dit is waar die ooreenkoms stop.  In hulle boek Goggagids (Die geleedpotiges van Suider-Afrika) skryf Erik Holm en Ansie Dippenaar-Schoeman “van die verskrikking van die woestyn” of dan die roman soos hy in ander Afrika lande bekend staan.

Hierdie vreeslike bynaam skryf hulle toe aan die feit dat die roman ‘n paar kakebene soos snoeiskêre het, vreeslik vinnig is (tot 53 cm per sekonde) en van nature aggressief is.   

Eintlik is die roman ‘n solifugae - Latyn vir sponsspinnekop. So genoem omdat dit in hulle natuur is om hitte te vermy en van skaduwee tot skaduwee te hardloop.

‘n Roman sal beslis kans sien vir ‘n geveg. Dié gedierte is ‘n gebore jagter wat sy prooi vang en lewendig opvreet. In ‘n geveg sal die roman gebruik maak van sy kake, wat hom in staat stel om prooi groter as hyself te pak en te oorweldig. Daar sal op die prooi gespring word, waarna dit vasgepen word met die kake, wat so sterk is dat dit kewers se doppe inmekaar kan pers.

Volgens Holm en Dippenaar-Schoeman sluit ‘n roman se prooi ander romans, skerpioene, spinnekoppe en selfs kleiner reptiele soos akkedisse en geitjies in.

‘n Skerpioen is dalk nie gebou vir spoed nie, maar kan hom roem op twéé stelle wapens, naamlik sy armagtige knypers en ‘n stert met ‘n angel (albei vlymskerp).

Met dié wapens sal die skerpioen – dis nou dié met die min gif en sterk knypers – sy prooi gryp, knyp en begin eet. Dié wat weer geseën is met die bate van dik sterte en baie gif sal hulle prooi daarmee aanval en met die knypers nader bring en begin vreet. Skerpioene is nie naastenby so vinnig soos romans nie, maar is wel goed toegerus met fyn haartjies en pektines, oftewel gehoororgane, om vibrasies in die lug te interpreteer. Interessant genoeg is skerpioene eintlik half blind. Hulle oë (hulle het vier tot ses oë, in vergelyking met die roman se twee) is beperk tot die waarneem van ligintensiteit, en party spesies gebruik hulle sterte om te help met dié funksie.

Beide die skerpioen en die roman se doppe is nie baie hard om hulle teen aanvalle te beskerm nie.

In die Goggagids word juis melding gemaak van dramatiese tweegevegte tussen skerpioene en romans. “Meestal knip die roman in so ‘n tweegeveg blitsvinnig die stert, en dan die knypers en pote van die skerpioen af. Daarna verorber die roman die weerlose skerpioen tydsaam,” vertel die skrywers.

Hulle vertel egter ook van ‘n geval waar ‘n skerpioen (parabuthus villosus) ‘n roman oorwin het deur “dood” te speel. Die skerpioen het die roman tussen die oë gesteek nog voor die roman heeltemal op hom was. Die volgende oomblik het die skerpioen “dood” inmekaargesak. “Die roman het opgewonde gesoek na sy teenstander, en soms in die proses bo-oor hom geloop sonder om hom te eien. Ná ‘n paar minute het die gif begin werk,” vertel die skrywers.

 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first

Readers are encouraged to comment on articles and express their opinion. The views expressed by readers should in no way be perceived as necessarily that of the newspaper or its staff members. Comments may be pre-moderated by our team and if found offensive, be removed.

When commenting, please respect others. Be polite to all the members of our community, including other commenters, authors and the subjects of articles. We believe strongly that the Zoutnet group of websites should be a safe and welcoming space for all individuals, groups and their ideas. As such, any rudeness, insults, hate speech, hostility, or language that incites racism or unfair discrimination may be removed and you may lose your ability to comment. 

Hierdie spesifieke rooi roman is afgeneem agter die Soutpansberge, naby die Soutpanne. Hy het juis sy visier ingestel gehad op 'n klein veldmuis. Die veldmuis het met die neem van die foto weggeglip. 

 

Kort ná die roman afgeneem is, het hierdie meneer sy opwagting gemaak. Volgens verskeie kenners met wie die koerant gesels het, is dit die uiters giftige parabuthus mossambicensis. 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: isabel@zoutnet.co.za

Recent Articles