ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Kos Coronaios van Cook’s Corner wat vroeg Maandagoggend in sy restaurant in die Checkerssentrum beroof is.

Wie is volgende?

 

News  Date: 08 September 2006

 

Vir plaaslike sakeman Kos Coronaios van Cook’s Corner kon Maandag, 4 September, nie op ‘n blouer noot begin het nie. Kort na oopmaaktyd het hy in die loop van ‘n gewapende rower se pistool afgekyk.

“Ek sal nooit sy oë vergeet nie,” merk Coronaios op terwyl hy die gebeure van die oggend herleef. Hy vertel hoe hy net na 07:00 twee mans voor sy restaurant in die Checkerssentrum sien verbystap het. Net daarna het nog twee mans verbygekom. Almal van hulle het baie duidelik sy winkel dopgehou en Coronaios het onraad gemerk.

Die volgende oomblik staan drie mans voor hom en toe Coronaios sy oë uitvee, is daar ‘n pistool op hom gerig. Een van die ander mans het ook ‘n vuurwapen gehad.

“Hulle het die kluis se sleutels, selfone, geld en my beursie geëis. Ons is almal die kombuis ingeboender en beveel om op die grond te lê. Gelukkig was daar geen kliënte in die winkel nie,” sê Coronaios.

Coronaios, wat klaarblyklik nie vinnig genoeg gereageer het op die bevel om op die vloer te lê nie, het ‘n skop in die gesig gekry.

“Alhoewel hulle gespanne voorgekom het en gedreig het om my dood te skiet, was hul optrede kalm. Ek spekuleer net, maar ek dink die een ou was bietjie gerook. Dit kon dalk ook net die adrenalien gewees het.”

Coronaios is nie seker wat verder gebeur het nie. Terwyl hulle op die vloer in die kombuis gelê het, was die rowers voor in die winkel doenig. Kort daarna is die rowers vort met ‘n hoeveelheid kontant en verskeie persoonlike besittings, insluitend Coronaios se skootrekenaar. Hulp is dadelik ontbied, maar te midde van die polisie en lede van die Soutpansberg Dorpswag se vinnige reaksie het die rowers arrestasie ontduik.

“Ek sê vir jou, my vertroue in mense is gekrenk. Ek het altyd gedink dit kon nooit met my gebeur nie. Die voorval gee mens nie baie geloof in die veiligheid van ‘n gemiddelde besigheidspersoon of inwoner nie. Hierdie hele misdaadkwessie het hand uitgeruk.”

Coronaios, wat teen Woensdag nog gesukkel het om die gebeure te verwerk, is egter dankbaar dat hulle almal nog lewe.

“Ek dink die rede waarom hulle huiwerig was om werklik ‘n skoot te skiet, was die vrees dat hulle aandag sou trek. Die polisiestasie is so 100m van my winkel af. Wys jou net hoe arrogant dié mense is.”

Coronaios was ook baie ontsteld oor die feit dat daar nie voor of na die roof enige teken van ‘n sekuriteitsbeampte was nie, ten spyte van die feit dat hulle vir 24-uur sekuriteit betaal. Hy sê hy sal maar self ekstra maatreëls tref om sy perseel veiliger te maak.

Teen druktyd was daar geen aanduiding of die polisie enige sukses met die ondersoek na die roof behaal het nie. Die beskrywing wat deur Coronaios gegee is beskryf die mans as kort gebou en ongeveer tussen 25 en 30 jaar. Interessant genoeg, sê Coronaios, het hy later gehoor dat een van die verdagtes se beskrywing moontlik kan ooreenstem met dié van die groep mans wat Sterns in dieselfde sentrum geroof het net meer as twee weke gelede.

“Wie is volgende?” was Coronaios se vraag. Intussen het hy sy dank uitgespreek teenoor almal - vriende, familie en kliënte - wat hom en sy vrou en kinders bystaan. Hy het ook die polisie en die dorpswag bedank vir hulle vinnige reaksie.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines