ADVERTISEMENT:

 

Twee jaar gelede is 'n stel beendere ontdek in die bosse aangrensend tot Rivierstraat.

Polisie krap kop oor gru-vonds van beendere

 

Daar word nog gegis oor die oorsprong van die menslike beendere wat verlede week ontdek is op ‘n plaas buite Louis Trichardt.

Die Makhado Polisie is verlede Maandag, 29 Januarie, gevra om ondersoek in te stel, nadat die bene gevind is op ‘n plaas in die Bandelierkop-area. Volgens plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane, is die grillerige ontdekking gemaak deur die boer van die plaas, terwyl hy besig was met ‘n roetine patrollie van die plaas.

‘n Blou oorpak wat aan ‘n doringboom gehang het, het glo die boer se oog gevang. Hy het by nadere ondersoek beendere gekry wat verspreid gelê het onder die boom. Hy het toe die polisie ontbied.

Volgens Radzilane het die bene oor ‘n groot area verspreid gelê. Dit het ingesluit oorblyfsels van ‘n skedel en gesplinterde skeletbene. Onder die boom het die polisie ook ‘n bruin langbroek, ‘n blou baadjie, swart gordel en twee stelle onderbroeke - ‘n rooie en een met wit-en-swart strepe, gekry.  

Vir baie lesers sal hierdie storie ‘n gevoel van déjà vu gee.

Dit is omdat daar in 2016 binne ‘n kort tydperk ook twee stelle menslike beendere in en om Louis Trichardt ontdek is.

Die eerste stel beendere is in September van daardie jaar gevind in die bosse aangrensend tot Rivierstraat. Werknemers van die Departement van Omgewingsake het op die bene afgekom, terwyl hulle besig was om uitheemse plante in die dorp se Groengordel uit te roei. ‘n Argeoloog, mnr. Stephan Gaigher, het gevind dat, gebaseer op ‘n foto, die bene heelwaarskynlik dié van ‘n jong vrou was.

Ten tye van die ontdekking is daar wyd bespiegel dat die bene moontlik dié van ‘n verkragtingslagoffer was wat vermoor is in die digte bosse.

‘n Week later is nog ‘n stel bene ontdek. Dié keer op die plaas van mnr. Sarel Viljoen, sowat 4 km van Louis Trichardt op die Levubu-pad. Plaaswerkers het ‘n skedel en beendere ontdek terwyl hul besig was om ‘n strook op die plaas te ontbos. Viljoen het destyds gespekuleer dat die bene moontlik behoort het aan ‘n onwettige immigrant wat skuiling gesoek het in die bosse.

Nog geen vordering is gemaak in die uitkenning van enige van die beendere nie. Volgens Radzilane word daar nog gewag op DNS uitslae. Dit is glo nie vreemd dat daar meer as twee jaar gewag kan word op sulke uitslae nie.

News - Date: 11 February 2018

Recent Articles

Search for a story:

 

Die stasiebevelvoerder van die Makhado Polisiestasie, kol. Nyelisani Mabata (middel), het die toneel besoek waar die beendere gevind is. Foto verskaf.

Van die klere wat die polisie ook op die toneel gevind het naby die menslike bene. Foto verskaf.

Twee jaar gelede is 'n stel beendere ontdek in die bosse aangrensend tot Rivierstraat.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: