

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 September 2006
Vlooi, vlooi wat soek jy in my kooi … Hierdie piepklein springende bloedsuiertjies raak weer bedrywig met die draai van die seisoen.
Een inwoner van die nuwe uitbreiding se boerboel het so gejeuk van die vlooibyte dat sy baas oplaas sy hout hondehok verbrand het.
“As jy daar loop, het dit gelyk of jy kouse aan het,” het sy baas gesê.
In die ou dorp is daar ook ‘n gejeukery aan die gang.
“Die honde se velletjies is al rou gebyt,” sê een van die inwoners daar.
Die krappery eindig ook nie by die honde nie, want vlooi se kind ontsien ook geen tweevoetige nie en enkels en bene loop veral deur.
Gevaarlike nuwe rate om die gejeuk aan die lyf te stop wissel van naellakverwyderaar tot die nog gevaarliker bostik op die jeukplekke.
“Nee, die ou kakiebos boereraat is maar die veiligste,” sê ander. Kakiebos is ‘n bekende boereraat wat werk om die vlooie te laat vlug uit die onmiddellike omgewing, maar nie om die vlooie van kant te maak nie. Nog ‘n boereraat is om knoffel in die hond se kos te gooi. Dit kan dalk ‘n eksperiment wees om te kyk of die hond se blaf en asem nie dalk as byvoordeel ongewenste inbrekers afskrik nie.
“Kakiebos werk seker, maar dit stink so,” sê mev. Bea Reimer van die Dierebeskermingsvereniging.
“My boodskap aan die mense is: raadpleeg jou veearts. Sekere middels daar mag dalk ‘n bietjie meer kos, maar dit werk. Dit is belangrik dat diere skoon en gelukkig gehou word,” sê mev. Reimer. Verder beklemtoon sy dat diere wat vlooie het ook ontwurm moet word.
Dr. Willie Harris van ‘n plaaslike dierekliniek sê dat dit ‘n algemene verskynsel is dat vlooie toeneem as die somer begin en veral as die vorige seisoen vogtig was. Meer vlooie oorleef dan die winterseisoen.
‘n Vlooi, wat tot 18 maande kan leef, ondergaan gedurende sy leeftyd ‘n volledige metamorfose. Die eiertjies wat in stowwerige plekke gelê word, broei uit na drie tot tien dae. Die larwe vervel twee maal en die toekomstige vlooi kan dan in sy papiestadium bly totdat hy die trillings of geluide van ‘n moontlike gasheer waarneem.
Dr. Harris sê dat dit baie belangrik is om die omgewing sowel as die diere te behandel. Daar is goeie langwerkende middels beskikbaar.
“Vir ‘n beskermende omgewing soos hokke of matte in huise, is daar produkte wat ook kan voorkom dat eiertjies uitbroei. Matte kan dan goed gestofsuig word. Jy gaan nie die omgewing beheer kry met al die ou tipe middels en rate nie,” sê dr. Harris. Hy beveel aan dat die probleem nóú hardnekkig aangespreek word voordat die vlooipopulasie meer word wanneer die werklike hitte en reën kom.
Dan byt die vlooie eers vreeslik. Vra maar vir die oueres van dae. Vroeër het mense verskriklik met vlooibyte geworstel. Daar word vertel op die mieliestronk.com webwerf dat die vlooiprobleem in die Middeleeue so groot was dat die hoëlui vlooiboordjies van dierepels of vere gedra het.
“Dit was glo die oorsprong van die versierende pels wat vandag nog deur vroue om die skouers gedra word…,” word daar beweer.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
