ADVERTISEMENT:

 

Wyle Ouma Nellie Erasmus. Die foto is onlangs geneem toe sy deelgeneem het aan die rolstoelwedren tydens ‘n pretdag by Ons Tuiste.

Minlike ouma Nellie Erasmus oorlede

 

News  Date: 08 September 2006

 

‘n Bekende inwoner van die Soutpansberg en een van die oudste inwoners van Ons Tuiste, ouma Nellie Erasmus, is verlede Woensdag in die ouderdom van 86 jaar en tien maande oorlede.

Ouma Nellie was ‘n nooi Van der Merwe en is op 17 Oktober, 1919, op Damesburg in die Distrik Groot Marico gebore. Haar ouers het na Johannesburg verhuis toe sy 16 was.

In Johannesburg het sy vir onderwysstudent Kerneels Erasmus ontmoet en sy is in 1945 getroud toe sy 26 jaar oud was.

Die egpaar het hulle in 1949 op die plaas Hartebeesfontein agter die Soutpansberg gevestig, waar sy as die familie se geliefde tante ‘n ywerige tuinier, bakster, naaldwerkster en gewilde gasvrou was. Ná Kerneels se aftrede het hulle die plaas Lindashof in 1969 gekoop. Deurentyd het sy haar onderskei as ‘n tuisteskepper by uitnemendheid en die plaas in ‘n lushof help omskep. Ná haar man se dood in 1979 het sy nog vir etlike jare, tot in 1983, op die plaas aangebly.

In 1996 het sy vir ‘n paar jaar na Bloemfontein verhuis, maar in Augustus 2001 weer teruggekeer om tuis te gaan in Ons Tuiste, waar sy deurentyd vol lof was vir die goeie versorging en aandag wat sy by die ouetehuis ontvang het. Sy was betrokke by al die verrigtinge daar. Sy was besonder geliefd deur almal wat met haar in aanraking gekom het en geraak is deur haar blymoedigheid, skerp brein en vaste vertroue in haar Skepper. Sy was een van die oudste lidmate van die plaaslike Gereformeerde gemeente.

Ouma Nellie se gesondheid het die afgelope twee jaar begin verswak en op 15 Augustus vanjaar is sy met akute longkanker gediagnoseer.

Sy laat haar twee seuns, Theuns in Bloemfontein en Johan op Alldays en haar dogter Ronelle in Pretoria agter. Sy word ook oorleef deur haar twee susters, 11 kleinkinders en vier agterkleinkinders.

Die begrafnisdiens was Maandag (4de) in die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt. Die diens is gelei deur Ds. Hans Grobler.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines