ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Pieter Botes doen ‘n beroep op almal aan wie die plaaslike munisipaliteit diens moet lewer om die raad te versoek ‘n ombudsman daar te stel wat klagtes kan ondersoek.

Sal 'n ombudsman belastingbetalers kan help?

 

News  Date: 08 September 2006

 

Sou ‘n ombudsman wat klagtes ondersoek, dalk die munisipale belastingbetalers uit dilemmas kan help?

Mnr. Pieter Botes, wat voorheen in die rekeningkundige wêreld bedrywig was en daarna op die plaas Panorama afgetree het, reken so. Hy het die afgelope 12 jaar ‘n voortslepende probleem met die betaling van lynheffings.

“Ons kort ‘n ombudsman, sodat ek in liefde na hom kan gaan,” sê oom Pieter.

“Alhoewel die woord ‘ombudsman’ nog nie in die verklarende Afrikaanse woordeboek se sesde uitgawe verskyn nie, is die ombudsman ‘n magtige, unieke versoeningswapen, wat polities oor die hele wêreld met sukses gebruik word. Ook president Thabo Mbeki se Afrika Renaissance berus op dié unieke beginsel. Op ekonomiese gebied word dit toegepas deur finansiële ondernemings, waaronder banke, kort- en langtermynversekeraars, handelaars, diensleweransiers, selfs munisipaliteite,” sê oom Pieter. Hy sê dat die ombudsman ‘n geoktrooieerde rekenmeester behoort te wees. Daar kan ook ‘n hele ombudsman sekretariaat wees om probleme op te los.

Oom Pieter se probleem het begin toe hy op 13 Maart 1984 ‘n ooreenkoms met die Stadsraad aangegaan het vir kragaansluiting op Panorama. Hy het nie die globale kapitaalbedrag van R6 855 betaal nie, maar die bedrag teen 14% rente oor 20 jaar as ‘n maandelikse lynheffing afbetaal. Hy sê dat hy reeds in Julie 1995 die volle skuld vereffen het. ‘n Skrywe van die munisipaliteit in 1997 het hom verwittig dat die lynheffing vervang word met ‘n onderhoudsheffing.

“Ek werk egter streng volgens die kontrak,” sê oom Pieter en het die skrywe gerepudieer.

Na vele persoonlike besoeke aan die munisipaliteit waarin hy van een departement na ‘n ander gestuur is, het hy besluit om self ‘n staat op te trek. Tussen September 2005 en Junie vanjaar het hy agt briewe geskryf. Sy jongste brief van 11 Augustus is ook onbeantwoord.

Oom Pieter sê hy doen ‘n beroep op almal aan wie die plaaslike munisipaliteit een of ander diens moet lewer om die Raad te versoek om so spoedig moontlik ‘n ombudsman sekretariaat daar te stel om te bedien en aktiwiteite te reorganiseer.

Mnr. André Naudé van die Voorsittersvereniging het gesê dat ‘n onafhanklike ouditkomitee in die lewe geroep is om die munisipaliteit by te staan.

Geoktrooieerde rekenmeester mnr. Ferreira Nel is een van die lede van die komitee. Mnr. Nel sê dat hy in sy persoonlike hoedanigheid by die ouditkomitee betrek is.

“Die ouditkomitee is in die middel van verlede jaar gestig. Dit is ‘n liggaam onafhanklik van die munisipaliteit en daar is nie munisipale amptenare op die komitee nie. Die komitee hou vergaderings en bestudeer verslae om te sorg dat prosesse deursigtig is,” sê mnr. Nel. Die name en kontakbesonderhede van die voorsitter en ander lede van die komitee is by die munisipaliteit en is teen druktyd nog nie ontvang nie.

Wat die voorstel van ‘n ombudsman betref, sou mnr. Nel verkies dat die voorsitter reageer. Sy persoonlike opinie is dat enige positiewe inset in beginsel verwelkom word.

Daar word ook nog gewag op reaksie van munisipale kant op die gedagte van ‘n ombudsman. Vrae oor die rol van die nuwe ouditkomitee is ook nie beantwoord nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines