ADVERTISEMENT:

 

Munisipaliteit is toe volgende teiken van rowers

 

News  Date: 15 September 2006

 

Skaars was die Zoutpansberger verlede week op straat onder die voorbladopskrif “Wie is volgende?” of ‘n amptenaar van die Makhado Munisipaliteit skakel met die boodskap: “Ons is!”

Inderdaad was dit toe ook so ...

Slegs vier dae nadat plaaslike besigheidsman mnr. Kos Coronaios se restaurant, Cook’s Corner, beroof is, het gewapende rowers Donderdagoggend tussen 09:00 en 10:00 die munisipaliteit geteiken.

Kort nadat ‘n lid van die RRS Sekuriteitsmaatskappy met ‘n geldtrommel by die munisipale kantore uitgestap het, is hy letterlik by die Raad se voordeur deur twee gewapende mans gekonfronteer.

Die sekuriteitsbeampte is beveel om die trommel geld neer te sit. Hy het egter probeer om hom teen sy aanvallers teë te sit, maar is in die proses in die regterhand gewond.

“Ek het net ‘n slag gehoor en toe ek by die venster uitkyk, sien ek die sekuriteitsbeamptes op die grond lê,” vertel een amptenaar.

Te midde van ‘n besige parkeerterrein binne die munisipale perseel het niemand blykbaar iets gesien nie. Die aanvallers het sekondes na die skoot geklap het met die geldtrommel en die sekuriteitsbeampte se dienspistool op die vluggeslaan in ‘n wit BMW. Die polisie was gou op die rowers se spoor, maar selfs met die hulp van die Soutpansberg Dorpswag wat so vinnig moontlik die dorp se onderskeie uitgangsroetes probeer toemaak het, het die rowers arrestasie ontglip. Die voertuig wat in die roof gebruik is, is later verlate op die Schoemansdal-pad na Tshiozwi gevind. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die BMW as gesteel aangemeld is in Gauteng.

“Dit het alles so vinnig gebeur,” het die Raad se skakelbeampte, mnr. Peter Muleya, Woensdag gesê. Hy het bevestig dat die booswigte daarin kon slaag om net meer as R70 000 te buit.

“Ons keur die voorval teen sterkste af,” het Muleya gesê. Hy het bygevoeg dat die Raad kyk na maniere of hul perseel vir beide hulself en die publiek in die toekoms veiliger te maak.

Teen druktyd was daar nog geen arrestasies in die saak nie.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines