

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 February 2018
Die nodige papierwerk is nog nie afgehandel in die saak teen die drie mans wat teregstaan op klagte van renosterstropery nie.
Deon van Deventer (48), Niklaas van Deventer (51) en Onward Muchagowa (41) is op 6 Januarie 2017 gearresteer, nadat hulle na bewering ‘n afgesaagde renosterhoring in ‘n plastieksak ten tyde van ‘n polisiejaagtog op die Vivo-pad by hul bakkie se venster uitgegooi het.
Al drie die mans is steeds in aanhouding en verhoorafwagtend, nadat hul borgaansoeke in Mei verlede jaar afgekeur is op grond daarvan dat hulle moontlik verdere oortredings sal pleeg.
Tydens dié borgaansoeke het dit aan die lig gekom dat Deon skuldig gepleit het op ses aanklagte wat verband gehou het met die dood van 11 renosters vanaf 14 Desember 2005 tot en met Mei 2006. In een geval het hy twee renosterbulle en een renosterkoei naby Mbabane in die Kruger Nasionale Park doodgemaak en hul horings gestroop.
Deon is toe gevang en op 29 Mei 2006 op borg van R10 000 vrygelaat. In die daaropvolgende drie maande het Deon skuld erken op ‘n verdere drie aanklagte wat verband gehou het met die dood van nog ses renosters.
In die saak wat tans voor die Louis Trichardt Landdroshof dien, word daar vermoed dat al drie die mans verbind kan word met nog twee afsonderlike gevalle waar renosters doodgeskiet en gestroop is van hulle horings.
Die omvang van dié saak is egter van so ‘n aard dat die polisie nou nog besig is om hul ondersoek af te handel. Boonop moet die finale papierwerk afgehandel word, sodat daar nie ‘n botsing van belange is as daar regshulpprokureurs aangestel word vir die drie nie.
Derhalwe sal al drie weer vlugtig op 14 Maart in die hof verskyn sodat dié aanstellings gefinaliseer kan word.
Daar sal na verwagting dan voortgegaan kan word om ‘n verhoordatum vas te stel.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
