ADVERTISEMENT:

 

Plaaslike CANSA Relay For Life is volstoom aan die gang

 

News  Date: 23 February 2018

 

Die pleidooi wat in ‘n berig in verlede week se uitgawe van die Zoutpansberger verskyn het ten opsigte van die jaarlikse CANSA Relay for Life Louis Trichardt het weereens die gemeenskap saamgesnoer.

“Tydens ‘n vergadering is hande gevat deur ou en nuwe komiteelede om te verseker dat elkeen wat deur kanker geraak is die geleentheid sal hê om saam te staan in die geveg teen kanker,” het Riana Bronkhorst, CANSA Limpopo se divisie koördineerder, in ‘n verklaring gesê.

CANSA Relay for Life is ‘n internasionale viering van die stryd en die hoop van kankerlyers. Dit gee elkeen wat deur kanker geraak word die geleentheid om jaarliks hulle oorwinning te vier. Daar word ook die lewens van hulle wat in dié tyd die stryd verloor het, herdenk en gevier. “CANSA wil graag almal wat so hard saamgewerk het oor die afgelope sewe jaar bedank, veral die voormalige voorsitter, mnr Dirk Meissenheimer, wat diep spore getrap het, en ‘n wonderlike fondasie gelê het vir die voortbou van dié unieke jaarlikse geleentheid,” het Bronkhorst gesê.

CANSA Relay for Life Louis Trichardt se beplanning vir 16 Maart is nog volstoom aan die gang en beloof om ‘n onvergeetlike aand te wees. Die personeelvennoot vir Polokwane, Christopher Combrink, tesame met toegewyde vrywilligers, is fluks besig met die beplanning van die CANSA Relay for Life.

Deelname aan die CANSA Relay for Life gee elkeen die kans om doelgerig deel te wees in die groot geveg teen kanker. Die boodskap is ‘Hoop’. CANSA Relay for Life Louis Trichardt is deel van 70 geleenthede regoor die land en honderde oor 28 lande heen.

Kankeroorwinnaars, hulle versorgers en deelnemers sal bymekaarkom by Hoërskool Louis Trichardt vanaf 17:00 op 16 Maart. Die Oorwinnaars word genooi vir ‘n ete om 18:00, wanneer die CANSA Relay for Life amptelik geopen sal word. Hulle stap dan ‘n ere-rondte om die baan (Survivors Lap). ‘n Spesiale oomblik tydens enige CANSA Relay for Life is die Luminaria-geleentheid. Versierde sakkies met kerse word aangesteek om hulle wat die stryd verloor het, te gedenk, waarna die fakkel van Hoop aangesteek word.

“Alhoewel die CANSA Relay for Life ‘n fondsinsameling is, is dit glad nie die hoofdoel van die aand nie. Dit is primêr ‘n viering van die oorwinnaars en ‘n geleentheid om die gemeenskap bymekaar te bring en bewusmaking te doen. Daarna kan spanne op ‘n vrolike noot om die baan stap, draf, huppel of dans. Dis immers ‘n viering van ‘n oorwinning van die lewe en van hoop!” het Bronkhorst gesê.

Vir individuele of spaninskrywings, skakel Christopher Combrink by 072 681 1949. Vir ander navrae, skakel Riana Bronkhorst by tel. 082 663 5719 of Dirk Meissenheimer by 082 789 3927.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines