ADVERTISEMENT:

 

Verkeer in beide rigtings is op die N1 Noord is tot stilstand gebring na 'n gewaagde transito-rooftog die afgelope Maandag.

Skote klap op N1 tydens waaghalsige rooftog

 

News  Date: 24 February 2018

 

‘n Sekuriteitswag van die G4S-sekuriteitsmaatskappy is Maandag gewond tydens ‘n waaghalsige transitorooftog op die N1-noord, net voor die Hendrik Verwoerd Tonnels.

Daar word wyd gespekuleer dat die rooftog fyn vooraf beplan is deur ‘n groep rowers wat swaar gewapen was. Die moontlikheid dat hulle vergesel is van een of twee professionele skerpskutters is ook nie uitgesluit nie.

Die drama het homself Maandag om ongeveer 16:30 afgespeel. Volgens die polisie was die sekuriteitsvoertuig onderweg van Musina na Louis Trichardt toe ‘n onbekende aantal verdagtes daarop toegeslaan het. Die verdagtes was op reis in ‘n Toyota dubbelkajuit bakkie en ‘n Mercedes Benz.

Die verdagtes in die Toyota bakkie het op die sekuriteitsvoertuig losgebrand en, in ‘n poging om te vlug, het die bestuurder van die sekuriteitsvoertuig ‘n U-draai probeer maak.

Daar was egter geen kans vir ‘n ontsnappingspoging nie. Die verdagtes in die Mercedes Benz het glo op die sekuriteitsvoertuig afgepyl en die voertuig se bande met presisie pap geskiet. Dit het die bestuurder van die sekuriteitsvoertuig gedwing om langs die pad tot stilstand te kom, ‘n kort entjie voor die eerste Hendrik Verwoerd Tonnel.

Die rowers het steeds hul vuur op die sekuriteitsvoertuig gekonsentreer nadat dit tot stilstand gekom het. Of die personeel in die sekuriteitsvoertuig teruggeskiet het, is nog onduidelik, maar wat die polisie wel kon bevestig, is dat een van die sekuriteitsbeamptes tydens die vuurgeveg gewond is.

Die verdagtes kon daarna daarin slaag om springstof te gebruik om die geldkluis in die voertuig oop te skiet. In die proses is die sekuriteitsvoertuig aan flarde geruk. Die rowers het daarna met ‘n onbekende bedrag geld op die vlug geslaan. In ‘n gesamentlike poging deur die polisie en die plaaswag is roetes in die omgewing toegemaak en dopgehou in die hoop om die verdagtes vas te trek. Hierdie poging was egter onsuksesvol.

Inwoners wat daagliks die pad gebruik om ná werk huis toe te gaan, het vertel hoe hulle net-net die wilde jaagtog misgeloop het en hoe dankbaar hulle was dat hulle nie in die spervuur beland het nie. Heelwat note en stukke note kon ná die roof nog op die toneel gesien word.

‘n Woordvoerder vir die G4S-maatskappy, me. Wendy Hardy, het Woensdag bevestig dat die sekuriteitswag nog in die hospitaal herstel van sy wond.

Teen druktyd was daar nog geen arrestasies in die saak nie. Die polisie kon ook nie bevestig na hoeveel verdagtes hulle soek nie. Dié was een van twee voorvalle waarin springstof binne 24 uur in en om Louis Trichardt gebruik is om ‘n roof uit te voer.

In die ander voorval is ‘n besigheid in Louis Trichardt deur die loop van Maandagaand en Dinsdagoggend beroof toe ‘n onbekende hoeveelheid verdagtes die geldkluis met springstof oopgeskiet het. (Sien artikel op p. 4).

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines