ADVERTISEMENT:

 

Beheerliggame ’n sleutelaspek in moedertaalonderrig, sê FEDSAS

 

Die voordele van ‘n veeltalige samelewing is welbekend. Navorsing bewys dat die vermoë om meer as een taal te kan praat sosiale en persoonlike sowel as akademiese en professionele waarde het. Met die viering van Wêreldmoedertaaldag op 21 Februarie fokus die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) vanjaar op veeltalige onderrig.

“Met veeltalige onderrig bedoel ons dat kinders die reg het om te kan kies in watter taal hulle onderrig ontvang. Politieke druk laat ons soms vergeet van die feit dat die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel veeltaligheid as grondslag het – daar is reeds skole in al 11 amptelike landstale beskikbaar,” het dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS, in ‘n persverklaring gesê.

Volgens Deacon is die uitdaging nie soseer die beskikbaarheid van moedertaalonderrig nie, maar wel die beskikbaarheid van gehalte-onderrig in al 11 landstale. “’n Skool se taalbeleid is maar een rede hoekom ouers en kinders ‘n bepaalde skool verkies. Die deurslaggewende faktor is eerder gehalte-onderrig. Met ons fokus op veeltalige onderrig wil FEDSAS vanjaar sê dat dit rolspelers se plig is om toe te sien dat daar topskole beskikbaar is in ál die landstale. Dit is die enigste manier om te verseker dat kinders gehalte-onderrig in hul moedertaal ontvang,” het Deacon in die verklaring gesê.

Die drie-jaarlikse skoolbeheerliggaamverkiesing vind volgende maand plaas. Die bepaling van ‘n skool se taalbeleid is een van die funksies van ‘n skoolbeheerliggaam. “Indien ouers en rolspelers uit ‘n bepaalde skoolgemeenskap van mening is dat hul skool nie gehalte-onderrig bied nie, bied die beheerliggaamverkiesing aan hulle die geleentheid om in te gryp. Pleks daarvan dat ouers toustaan om kinders na goeie skole te stuur waar hulle in ‘n tweede taal onderrig ontvang, kan hulle ’n daadwerklike poging aanwend om die skool in hul onmiddellike gemeenskap te omskep in ’n topskool,” het Deacon gesê.

Volgens FEDSAS kan hulle hier ‘n belangrike rol speel in die toerus van beheerliggaamlede. Een van die vele projekte om die gehalte van skoolbeheer en –bestuur te verseker, is die saamstel van ‘n handleiding vir skoolbeheerliggame. ‘n Praktiese handleiding oor skoolbeheer is in ses tale beskikbaar, naamlik Engels, Afrikaans, Sesotho, Setswana, isiXhosa en isiZoeloe. Dit sal egter binnekort in al 11 tale beskikbaar wees.

“Inligting rakende skoolbeheer en –bestuur is dikwels redelik tegnies van aard. Gehalte-onderrig is direk afhanklik van gehalte-bestuur, en daarom was dit vir FEDSAS belangrik om die inligting so toeganklik moontlik te maak,” het Deacon gesê.

Die handleiding bied ‘n kort oorsig oor die kernaspekte van skoolbeheer en is die ideale vertrekpunt vir nuutverkose beheerliggaamlede en selfs ervare lede wat hul kennis en ervaring verder wil verbreed. FEDSAS se omvattende inligtingsveldtog rondom die SBL-verkiesing sluit ook in die ontwikkeling van twee webtuistes waar ouers en ander rolspelers inligting oor die verkiesing en die rol van beheerliggame kan kry. Die webtuistes is in Afrikaans en Engels en is beskikbaar by www.skoolverkiesings.co.za of www.schoolelections.co.za en www.liefvirmyskool.co.za of www.lovemyschool.co.za

Vir meer inligting oor die handleiding, besoek www.fedsas.org.za of skakel 051 522 6903.

News - Date: 24 February 2018

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: