ADVERTISEMENT:

 

´n Oopgeblaasde geldkluis en ´n chaotiese kantoor het personeel van Bargain Centre Dinsdagoggend begroet. Foto verskaf.

Rowers blaas kluis in middedorp op

 

Bargain Centre in Louis Trichardt het die afgelope week die prooi geword van ‘n bende wat springstof gebruik het om hul kluis oop te skiet.

Dinsdagoggend is Bargain Centre se personeel begroet deur die opgeblaasde geldkluis. Die vermoede bestaan dat dit ‘n bende was wat verantwoordelik was vir die vuilwerk, omdat die skade wat aangerig is meestal net beperk was tot die kluis.

Die rowers het met ‘n onbekende bedrag kontant weggekom. Al wat vir die eienaars oorgebly het, was ‘n verfrommelde R100-noot wat vergete op die vloer gelê het.

Die vermoede bestaan dat die verdagtes gedurende die vroeë oggendure van Dinsdagoggend toegang tot die winkel verkry het. Presies hoe die verdagtes daarin geslaag het om verby die sekuriteitstelsel te kom tot in die winkel, is nie seker nie. Volgens plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilane wil dit voorkom of die verdagtes een van die winkel se vensters oopgeforseer het en toe daardeur geklim het.

Die polisie vermoed dat die diewe van plastiese springstof gebruik gemaak het, wat hulle deur die sleutelgat van die kluis gedruk het.

Volgens Radzilane het die verdagtes ook skote afgevuur. Een van die skote het deur die voordeur van die winkel getrek. Gerugte dat ‘n sekuriteitswag wat besig was om in die area te patrolleer, raakgeskiet is, kon nie bevestig word deur Radzilane nie.  

Volgens Radzilane het die rowers die voordeur ook oopgeforseer en toe op die vlug geslaan. Sy het Woensdag bevestig dat die polisie besig was om ‘n saak van diefstal te ondersoek en dat die ondersoek in ‘n sensitiewe stadium was. Teen druktyd was daar nog geen arrestasies gemaak nie.

Radzilane het inwoners met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, versoek om die speurders te bel op tel. 015 519 4300.

News - Date: 25 February 2018

Recent Articles

Search for a story:

 

Een van die skote wat deur die verdagtes afgevuur is het deur die winkelvenster van Bargain Centre getrek. Foto verskaf.

'n Verfrommelde R100-noot, vergete op die vloer, is al wat oorgebly het vir die eienaars van Bargain Centre nadat diewe 'n onbekende bedrag kontant uit die besigheid se kluis gesteel het. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: